Die winter hou sy nat greep verbete om die lente, maar ek is vol moed dat die Kaap binnekort warmer sal raak. Ek dink hierdie was my langste winter nog. Behalwe miskien my eerste Kaapse winter in 1998 tydens my eerstejaar op Stellenbosch. Ek was op daardie stadium glad nie gewoond aan winterreën nie en ek is behoorlik in 'n depressie ingereën. Sedertdien het ek egter toleransie opgebou en vermaak ek my depressie net as niemand kyk nie.
Die weer is vandag grys buite en toe kom ek op hierdie gedig af wat ek êrens in my verlore jeug geskryf het en vir 'n oomblik het ek weer terugverlang.
kom ons gaan sit naby die venster
en dan praat ons oor die weer
kom ons maak of alles sin maak
en los die pleisters op die seer
miskien kan jy saggies aan my vat
en iets sinneloos in my oor kom fluister
jou mond 'n rukkie vir myne leen
terwyl ons na die stilte luister
want
jou soene proe soos rooiwyn
jou lag is 'n somersdag
maar
buite val die reën
en ek slaap weer alleen vannag
No comments:
Post a Comment