Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Monday, September 28, 2009

Daar is altyd 'n eerste keer

The great thing about getting older is that you don't lose all the other ages you've been.

- Madeleine L'engle -

Die klokke moes seker al begin lui het op my 30ste verjaarsdag, maar ek was nog altyd redelik goed met ontkenning. Die tekens was nog die heeltyd daar; kinders wat my tannie noem, die motor wat ons gekoop het vir sy ruim kattebak in plaas van sy vuurwarm kleur en aantreklike lyne en die oulike fiksheids instrukteur by die gym wat my as 'mevrou' aanspreek. Maar dit was vanoggend toe ek in die spieel kyk en besef ek moet op 'n stadium oorweeg om te begin grimering dra, dat dit my tussen die oë tref, ek is nie meer 20-something nie.

Ek reken oud word het sy hoogtepunte, alhoewel min en vêr uitmekaar, maar dit is dat jou 'eerstes' so min word wat my vang. Ek onthou nog die eerste keer wat gedrink het - ek en Lienka het 'n bottel Bellingham Johannisberger (ek het in Vryburg groot geword, dit was of dit of brandewyn) op die skoolpawiljoen gaan uitdrink terwyl die son opgekom het. "Kyk Joe, die shon kom op." het soortvan 'n leuse geword. Ek was redelik geskok toe ek die volgende oggend in die kerk uitvind nadors is 'n simptoom van drink. My ma het so onderlangs vir my gevra "het jy gedrink?" toe ek vir die derde keer noem dat ek dors is. Die onskuld is darem maar beeldskoon.

Al my ander eerstes het permanente spesiale prentjies in my hart. My eerste sigaret saam met Tersia langs ons huis se swembad. My eerste soen langs die skoolsaal tydens die valentynsokkie. Die eerste keer wat my hart gebreek het (as gevolg van dieselfde ou van die valentynsokkie soen.) My eerste ware liefde wat ook 'n ander eerste tot gevolg gehad het wat ek liewer nie hier moet bespreek nie, want my ma lees ook my blog. My eerste motor - 'n wit Toyota Tazz waarmee my ouers my verras het - ek het gedink dit is die mooiste motor ooit. Die eerste keer wat ek heeltemal my hart en siel verloor het op 'n mens (êrens in 'n vreemde land.) My eerste troue (defnitief my laaste.) My eerste skinny dip in Malmesbury se publieke swembad 12h00 die aand (Malmesbury raak baie warm in die somer.) My eerste tattoo (dis 'n lang storie.) My eerste swangerskap en meisiekind. En vele meer eerstes as wat ek voor spasie het op hierdie bladsy.

Ek het darem altyd nog die 'wysheid' om na uit te sien, en as dit te lank vat het ek darem 'n paar goeie herhinderinge op om terug te val. Dan behoort daar ook darem nog hier en daar 'n eerste te wees wat die lewe interessant sal hou, soos byvoorbeel my eerste Jimmy Choos en Manolo Blahniks...

No comments: