Ek het besluit dat dit tyd geword het om my lyf weer op datum te kry. Siende Evan nou al 8 maande oud is, werk die verskoning 'ek was onlangs swanger' nie meer nie. Dit het my 'n halfuur gevat om my tekkies op te spoor. Hulle was effens verbaas om my te sien, maar tog gewillig. Ek het my iPod op my hardloop kompilasie (running mix) gestel en weggetrek (wegtrek in my lyf bestaan uit 'n draffie wat meer lyk soos 'n stappie.)
Die eerste 1.5km van my roete is opdraand. Die Dixie Chicks spring weg met 'Ready to run' op my iPod en ek voel sommer geïnspireer. Die inspirasie hou 'n volle 500m toe my longe begin brand. Nie eers Ryno Velvet se 'Ai my Lam' kry die woema terug nie. Nog 500m en ek begin spikkels sien - ek vermoed my brein kry nie genoeg suurstof nie. Kid Rock skop in met 'Sweet home Alabama' en ek stop eers om 'n bietjie te dans. Die motors verminder spoed as hulle by my verby kom - soos by 'n ongeluk. Bleikbaar kan ek ook nie meer skud soos in die ou dae nie en ek hardloop maar eerder verder.
1km verder en alles brand; my longe, my kuite, my bene, my linker heup en my kakebeen. Prince probeer hard om my aan die gang te kry met 'When doves cry,' maar selfs my Polar wys dat my hartklop 0 is (ek het die goedkoop model - as jou hartklop oor 200 gaan, kan hy hom nie meer optel nie en dan wys hy 0.) Dit het ek egter eers na die tyd uitgevind, so daar was 'n oomblik wat ek gedink het, ek is oppad uit. Ek het gesien hoe word my kinders sonder 'n ma groot. Was dit nie vir ACDC se 'Paradise City' nie, sou ek dit nooit tot by die huis gemaak het nie.
Toe ek by my voorhekkie instap breek ek sommer self uit in Rina Hugo se 'Ek lewe.'
Twee ure later en alles pyn steeds. Dit is soos hulle sê; it's painful to be beautiful.' Ten minste het my pyn goeie agtergrond musiek.
No comments:
Post a Comment