Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Wednesday, September 28, 2011

Skadu's teen die muur

Vandag was 'n moeilike dag. My vriendin op universiteit het altyd gepraat van die olifante wat op haar bors trap. Die olifante was vandag vierkantig op my bors. Die Engelse het 'n wonderlike uitdrukking van wallow in your misery. Nou as ek voel soos ek vandag voel, hou ek daarvan om te wallow in my misery. Die beste manier om dit te doen is om jou te omring met woorde wat met jou hart praat. En as daar nou een man is wat weet van wallow, dan is dit onse Koos du Plessis. So hierdie is opgedra aan my misery.

Liedjie: Skadu's teen die muur
Lirieke: Koos du Plessis
Alle prentjies: We heart it

Die donker kom van buite
en syfer deur die ruite,
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur

En die tafel en die laaikas
en alles wat eers vas was,
versmelt tot blote skadus teen die muur
Ons drome van gister,
word somber en sinister
want kyk, alles het 'n vasgestelde uur
Ons beplan toringblokke,
maar die slopers is betrokke,
en ons drome is bloot skadu's teen die muur
Met orrelbeleiding kom die voorspel tot die skeiding,
maar dis alles reg
die liefde is 'n vuur
En van die vurige hofmaak
hoor ons later in die hofsaak,
want die liefde is 'n skadu teen die muur.
In swart of wit getooi,
in 'n stoet of 'n konvooi,
wonder elkeen hoe lank alles nog sal duur.

En leef holderstebolder,
want die kis wag op die solder,
en die lewe is 'n skadu teen die muur
Die donker kom van buite,
en syfer deur die ruite,
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur
En my voete en my hande
word ou bekende lande,
in skadukaarte teen die kamer muur

Die wêreld word 'n skadu teen die muur
'n flikkerende skadu teen die muur.

Wednesday, September 21, 2011

Very end of the month salty crack

Jy weet dit gaan swaar in die Langenhoven huishouding as die hoof wyndrinker van die huis voor die wynrak staan en na die prys kyk in plaas van die bottel etikette. Ek het gister op 'n bottel Namaqua Merlot afgekom vir R19 (en ja, dit sluit BTW in.) Dit het my teruggeneem na my universiteitsdae toe ons nog Tassenberg kon koop vir R15 'n bottel. Nes Tas, raak Namaqua ook eers lekker hier so teen die einde van die tweede glas, maar dit is defnitief nie ondrinkbaar nie en teen R19 oor en oor 'n winskopie. Bleikbaar kan jy hierdie rakker ook in 'n doos kry, maar drank deur 'n kraantjie maak my op my senuwees. Ten minste as die bottel leeg is, weet ek ek het reeds te veel wyn in en ek moet dadelik ophou praat. Met 'n doos, wel, kom ons sê maar net dit sal nie 'n goeie idee wees nie. Vra my, ek weet.

Friday, September 2, 2011

Ruimte koekies

Ek raak oud. Dis onlangs net weereens bevestig by 'n verjaarsdagpartytjie van 'n vriend.

By die partytjie aangekom ruik ek die sigaretrook 'n myl vêr en trek solank al my pakkie tissues en Iliadin nader; dit gaan 'n lang nag wees, dink ek. Moenie dink ek's niks gewoond nie, daar was winterdae in my en Lienka se woonstel in Stellenbosch wat die rook blou wolke teen die dak gemaak het, omdat ons nie die vensters wou oopmaak nie. Bygesê toe het ek nog tot 12 uur in die oggende gelê en slaap en bier specials was R10 vir 5 biere...baie dinge het verander.

Vir snacks word daar space cakes bedien. Ek was nog nooit een vir dagga nie. Daar was daai een dag in Amsterdam, maar soos julle weet; what happens in Amsterdam, stays in Amsterdam, so dit tel nie. So ek laat dit maar verbygaan. Ek is egter bly ek het besluit om my 2-jarige dogter by die huis te los, want hoe sou ek nou aan haar verduidelik het dat die chocolate cupcakes is net vir die grootmense...

Half 12 die aand is die pot nog nie gaar nie. Baie ander dinge is gaar, maar dit kan mens seker te wagte wees vir daardie tyd van die aand in ag genome onder andere die snacks. Die gasvrou vra hewig om verskoning, maar ons kuier mos lekker. Al waaraan ek egter kan dink is die feit dat ek oor twee ure weer moet opstaan vir Evan se eerste bottel.

Soos ek sê, ek raak oud.

Friday, August 19, 2011

'n Duisend Woorde

Ek en my vriendin Lienka het 'n nuwe projekkie aangepak. Dit is so nuut dat daar letterlik nog net een 'post' op is. Lienka hou van fotos neem en ek hou van skryf, sou nou kombineer ons die twee. Sy stuur vir my 'n foto en ek sit woorde by. (Ek besef dit is nie 'n nuwe konsep nie, maar dit is in Afrikaans, so ten minste is dit nuut. Ek dink) Sal dit waardeur indien julle die projekkie kan ondersteun. Die site adres is http://www.duisendwoorde.blogspot.com/. Laat weet my wat julle dink.

Tuesday, July 19, 2011

Suikerbos

Hierdie is een van my gunsteling afrikaanse liedjies deur die groep Wasserfal. Die ding draai nou al heeldag in my kop, so toe besluit ek om dit met jou te deel. Ek het dit ook so bietjie opgejazz vir die pret.

Lied: Suikerbos
Groep: Wasserfal
Alle prentjies: we heart it

Suikerbos
Al sou jy dalk eendag by 'n ander man slaap
En partykeer my ore van my kop af praat



Jy's 'n teelepel suiker, jy's 'n handvol kaneel
Jy't my hart gesteel

Trane loop oor jou wang soos wyn
Jou drome is groot maar jou wêreld is klein
Daar's 'n boek vol dinge wat ek wil sê
En suikerbos ek wil jou hê
Suikerbos ek wil jou hê
Ons kan droom van 'n huis wat vêr oor die blou berge lê

In my drome kan ons dans tot waar die tyd stilstaan
Ek en my suikerbossie saam
Weet jy dat ek somtyds nog vir jou skryf
Van die maan wat dans oor jou sagte lyf
En die son wat sing oor jou sagte mond
En my dag sal kom
Het ek jou vertel dat ek jou wil hê
En van al die dinge wat ek vir jou wou sê
Maar dis 'n ander man wat nou langs jou lê
En suikerbos ek wil jou hê

Tuesday, July 12, 2011

Glasstukke

We write to taste life twice, in the moment and in retrospect - Anais Nin.

Ek onthou in een van ons voorgeskrewe boeke in Matriek, Die rebellie van Lafras Verwey, het een van die karakters se water gebreek en sy het toe so uitgesree; waarop Lafras haar van agter die deur geantwoord het; "moet net nie in die glasstukke trap nie."

Soms as iets binne my breek wil ek vir die mense rondom my ook waarsku; pasop net vir die glasstukke.

Glasstukke
jy moes dit nooit sien nie
ek het probeer om jou weg te hou
van die vlymskerp stukies van my hart
en die donker waaraan ek so krampagtig vashou

jou prentjie van my moes dieselfde bly
van 'n krulkop meisie met 'n sorgelose lag
maar toe kom krap jy in my donker hoekies
en probeer dag maak van my nag

jy het so hard probeer om my heel te maak
stukkie vir stukkie weer op te bou
deur my trane en jou herhinderinge
hard gesoek vir die meisie wat jy onthou

nou sit jy daar: prentjiemooi
jou hande stukkend gesny
en al wat ek oor my lippe kan kry
is ek wens jy kon bly

Friday, June 24, 2011

Salon Catwalk

My man vergeet altyd hoe oud hy is as hy, sy swaer (my suster se man) en sy aangetroude nefie (my niggie se man) bymekaar kom. Jy sal sweer hulle is weer 16 jaar oud, het 'n bende en 'n geheime groet. Hulle het tot hulle eie liedjie (I kid you not) wat hulle luidkeels saamsing, veral na 11 in die aand...

So jy kan my nie kwalik neem dat toe ek onlangs 3 uur die oggend wakker word en hulle nog nie terug is van hulle aandjie uit nie, dat ek die ergste begin vermoed.

Die volgende oggend terwyl die 3 bere hulle roes afslaap sit ek, my niggie en my suster oor 'n koppie koffie en bespiegel oor waar hulle nou kon wees. Daar is net soveel plekke wat tot 3uur in die oggend nog oop is (dit is immers Durbanville, nie Stellenbosch nie.) Ek doen toe iets wat ek nooit doen nie (en waaroor ek glad nie trots is nie) - ek krap in my man se beurse vir 'n slippie. Eindelik kry ek 'n betaalstrokie uitgemaak aan Salon Catwalk vir R1800. Nou ek het al hiervan gehoor - Teazers sit altyd ander name bo-aan hulle slippies sodat die vrouens nie weet waar hulle mans was nie en Salon Catwalk klink vir my soos 'n tipiese Teazers nommertjie.

So werk ons drie toe nou vir ons behoorlik op. My niggie se man is skaars klaar gestort toe is hulle in die bakkie en ek hoor net so in die verbygaan my niggie sê: "Jy smile verniet ek weet waar was julle gisteraand." Terwyl ek wag vir my man om te ontwaak maak ek solank 'n lysie van alles wat ek kon doen met daai geld en met elke item, raak ek net nog 'n bietjie meer opgewerk.

Gelukkig voor my man wakker word lui my foon - dis my niggie en sy wil net sê dat haar man hoog en laag sweer hulle was nie by Teazers nie, net by Danskraal. Ek gaan kyk toe weer op die slippie en besef die datum is November verlede jaar en dit was vir die GHD wat hy vir my vir Kersfees gekoop het. Ek het lanklaas so stupid gevoel.

Hy was egter nog steeds in die moeilikheid, want Danskraal, ek meen, regtig!