Ek was nog nooit groot op 'n koek en tee nie. Koek, vir my, is iets wat jy op jou verjaarsdag eet en as jou boyfriend jou gelos het en tee is iets wat jy 10h00 in die oggend by die werk drink tydens jou teebreuk (dit is immers waar die naam vandaan kom.)'n Tee situasie wat my heeltemal ontsenu is begrafnisse. Asof jy nie hartseer genoeg is nie, word daar nog van jou verwag om tee te drink waarin jou lepel regop staan en toebroodjies te eet wat twee dae terug gemaak is, en van binne af buite toe reeds bietjie nat is. Ek wonder net altyd of die susters van die wyk besef hoe naby van hierdie mense op daardie oomblik aan die afgrond beweeg. Ek is seker 'n nat toebroodjie sal hulle finaal in 'n depressie instuur. As ek die dag die emmer skop, hoop ek my mense sal genoeg sin hê om kaasborde te reël (en goeie rooiwyn, natuurlik.)



