Ek hou van van liedjies met mooi woorde. Ek hou van sangers wat hulle eie goed skryf. Stories, wat vir my klink asof dit al met my gebeur het, soos Lize Beekman of Jan Blohm. Ek het onlangs hierdie liedjie raakgelees (nog nie geluister nie, maar slegs raakgelees) van Hanno van Heerden of 'n man soos Jan soos sy verhoogspersoonlikheid bekend staan. Na 'n lang gesukkel het ek die cd in die hande gekry wat nou oppad is in die pos. As ek dit geluister het sal ek julle laat weet, maar vir eers, laat hierdie jou nie verlang nie?
Die ritme van jou naam
Dis nie dat ek jou mis nie
Dis net dat ek wil weet
Sukkel jy ook somtyds
om van alles te vergeet
En drink jy ook nog rooiwyn
as jy na 'n vreemdeling verlang
En is jy nou al sterker
of maak dit jou nog bang
Haat jy nog daai fênsie woorde
wat die jonges so gebruik
Is jou hart nog so groot soos
die weduwee se kruik?
En die waaroms word nie minder nie
want die hoekoms word net meer
En die heelmaak van jou wonde
gaan gepaard met soveel seer
Dis nie dat ek verlang nie
maar ek dink nou ek verstaan
Ek verlang nie maar ek mis net
ja ek mis maar net die ritme van jou naam.
Lê jy klokslag nog met nuwemaan
op die gras voor ons ou huis
En laaik jy dit nog steeds om al die sterre
met jou vinger uit te wys
En dra jy nog steeds die pyle
in die koker van jou hart
om jouself te kan regverdig
en al jou brue af te brand
Fluister jy nog steeds uit woede
instede van te skree
En skryf jy nog gedigte
van daai sinkdak en die reën.
1 comment:
Liewe hemel dis mooi woorde
Post a Comment