Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Friday, December 10, 2010

My Blom word 2


My blommetjie het op 31 Oktober 2 geword. Ek kan nie gloe hierdie warrelwindkind is al 2 jaar in my lewe nie. Sy is absoluut die lig in my lewe. Ek kan nie my lewe voorstel sonder haar blou oë en bossiekop nie. Sy is 'n bondel energie en liefde.

Op 2 jaar is haar wêreld as volg:
  • Sy kan al die kaste en yskas oopmaak. Die yskas het haar die langste gevat om uit te figure. Sy druk haar klein vingertjies tussen die rubber en die binnekant in en dan gaan dit oop. Joghurt en tamaties is haar gunsteling ding om uit die yskas uit te haal.
  • Sy is mal oor 'n besem en 'n skoppie. As jy al die vuilgoed bymekaar vee, dan kom krap sy weer alles deurmekaar met die besempie. Om die huis te probeer skoonmaak terwyl sy by is, is soos om 'n bad vol te tap wat nie 'n prop in het nie.
  • Sy is baie liefdevol - almal moet gesoen en gedruk word en as jy gelukkig is, sal jy 'n 'liefe jou' ook kry.
  • Sy is nie groot op luister nie. As ek vir haar sê om iets te doen, sal sy nie skroom oom vir my te sê 'nee Mamma' nie.
  • As sy wakker word in die oggend vertel sy altyd vir my: "hisa jekker esaap."
  • Sy is mal oor swaai en elke aand as ons by die huis kom wil sy " 'n bietjie swaai."
  • Sy kan nie haar aandag lank by een ding bepaal nie, behalwe TV. Sy is mal oor haar stories op Cbeebees.
  • Haar melk bottel noem sy Bottel Nannie (ons het geen idee hoekom nie, maar dis baie oulik.)
  • Suiker maak haar hiperaktief. Na 2 blokkies tjoklit (of tokkit soos sy dit noem) lyk sy soos die energiser bunny.
  • Seerplekke moet beter gesoen word.
  • Die trapleer in die kombuis is haar sleutel tot 'n ander wêreld. Sy kan sien waar mamma kosmaak, waar boetie bad en sy kan by die vrugtebak bykom. Sy noem hom ook sommer 'Hisa tappie.'
  • Alles wat raas soos 'n haardroër, grassnyer en klitser is 'n 'www'. Haar tannie Carla is 'Kakka,' haar pa is 'pappa Nè;' haar broer is 'boetie' en Dandre is 'Danna'
  • Sy is baie goed met name (defnitief nie by haar ma gekry nie.)
  • Sy is mal om met haar ouma en oupa op die telefoon te gesels, maar dan praat sy haar eie taal. Net sy en haar oupa weet wat sy sê...
  • Sy is 'n drama queen of note en as jy nie aandag gee wanneer sy huil nie, sal sy vinnig vir jou sê 'Hisa juil.'
  • Sy hou van haar tee partytjies almal moet altyd saam uit haar klein pienk blommetjie koppies drink.
  • Sy sal enige iets doen om nie te gaan slaap nie, maar as sy eers aan die slaap raak is sy 'n regte engeltjie.

Thursday, December 9, 2010

Sopdieet - dag 3

Gewig: 63kg (Dankie streetwise two)
Entoesiasme vlak: 2.5%
Spyskaart: Sop met vrugte en groente

08:30
Rooibos en heunig yoghurt. Ek weet, dit is nie op die spyskaart nie, maar die lewe is heeltemal te kort om sop vir ontbyt te eet.

13:00
Sop. Ek wurg dit in. Ek gril so bietjie met elke sluk.

17:00
Ek is besig om goed uit te sit vir aandete toe ek besef: die sop is op. Daar is 2 dinge wat nie vanaand gaan gebeur nie; 1. ek sal nie weer daai sopmengsel aanmaak nie, want 'n 3dae-uiereuk in my huis sien ek nie voor kans nie en 2. wynonthouding - mens kan net soveel dinge nugter hanteer.

18:30
Lasagne met slaai. Ek gooi sommer bietjie mayonnaise by vir effek. O ja, en 'n groot glas Merlot. Happiness.

Lesse:
  • Dieët is vir die voëls
  • Ek moet eerder meer oefen as minder eet.
  • Die lewe is te kort om heeltyd nugter te wees.
  • Sop maak jou dom.

Thursday, December 2, 2010

Sopdieet - dag 2

Gewig: 63kg (I kid you not, maar na gisteraand se ontploffing is ek nie verbaas nie.)
Entoesiasme vlak: 90% (was dit nie vir die 1kg verlies hierbo nie, sou dit baie laer wees.)
Spyskaart: Sop en groente - met 'n gebakte aartappel en botter vir aandete.

07:30
Ek skip die hele sop vir ontbyt ding en drink net 'n koffie. Ek leer uit my foute. By die kantoor werk ek nog 'n koppie koffie deur om net die ergste honger te bedaar.

09:30
My eerste koppie sop vir die dag. Ek gooi hom dood met sout en eet my stimorol na die tyd.

13:30
Middagete = sop. Het darem intussen al 2 wortels, 'n tamatie en 3 Rennies deurgewerk.

16:00
Sien uit na vanaand se aartappel en botter en ek is nie juis 'n aartappel mens nie - onthou dat ek julle eendag die storie vertel. Eet maar solank 'n tamatie met sout.

19:00
Moet gou Tygervallei toe, want die Eggenoot soek nuwe skoene en daar is glo 'n uitverkoping by ALDO. Ek is besig om dood te gaan van die honger en dit voel of die uie deur my vel kom. Lisa gee vir my een van haar koekies, maar eers nadat sy my maan: "sê seblief Lisa." Die Marie gaan lê tussen die uie en tamatie, maar die bietjie suiker smokkel met my kop. Ons loop verby 'n Kentucky en iets binne haak uit en daar is 'n ligte suising in my ore. 'n Streetwise two later bedaar dit eers...

21:00
Was laas so naar toe ek 8 weke swanger was met Lisa.

Tuesday, November 30, 2010

Die Sopdieet - dag 1

Gewig: 64kg
Entoesiasme vlak: 100%
Spyskaart vir die dag: Sop en vrugte - geen piesangs nie.

Ontbyt:
Sop vir ontbyt is 'n eerste (en net toe ek dink ek het al my eerstes al deurgewerk) ek het al wortelkoek vir ontbyt gehad maar nog nooit sop nie. Dit gaan moeilik af - ek is meer 'n Kellog's en koffie persoon in die oggend. Die koffie sonder suiker is nie my eerste keuse nie, maar dit help. Ten minste is dit goeie koffie.

10:00
Ek is klaar weer honger. Gewoontlik sou hierdie my yogurt oomblik gewees het. Ek werk maar nog 'n bietjie sop deur in die kombuis, want ek dink nie my kollegas sal 'n sopreuk om 10:00 oorleef nie. Ligte uie smakie in my mond - maak 'n mental note om stimirols te koop.

Ek werk 'n appel en 'n peer deur voor middagete.

13:30
Sop. Ek voel hoe hierdie uie, green pepper en seldery kombinasie besig is om kompressie op te bou. Ek vrees 'n klein ontploffintjie.

18:00
Ek maak vir ons inbly nanny en my dogtertjie spagetthi bolognaise. Uit gewoonte sit ek per ongeluk 'n stukkie kaas in my mond. My hele lyf gee so 'n klein sametrekking van lekkerkry. Ons eet sop en papaya vir nagereg. (Papaya sonder roomys is eintlik meer slaai as nagereg.)

20:00
Die ontploffing wat ek al heeldag vrees gebeur and it ain't pretty.

Ek gaan slaap vroeg om die leiding korter te probeer maak.

Monday, November 29, 2010

Die Sopdieet - intro

Ek het so ruk terug 'n sopdieet by my ma gekry. Dit is bleikbaar die dieet wat hulle vir pasiente gee om gewig te verloor voor hart operasies. Die beginsel is hoe meer sop jy eet, hoe meer gewig verloor jy. Elke dag kry jy iets anders om saam met die sop te eet bv. vrugte of groente. Jy mag geen alkohol of gaskoeldrank drink nie, slegs onversoete tee of koffie en water (baie opwindend.)

Ek het besluit om dit op die proef te stel. As jy dit vir 7 dae volg, behoort jy tussen 5 en 8kg te verloor (as jy nie dood neerslaan voor die tyd nie.)

Hier is die bestanddele vir die sop;
1.5kg wortels
900g tamaties
1 bossie seldery
6 groot uie
1 green pepper
2 blikkies groenbone
2 blokkies beefstock
4 liter water.

Friday, November 5, 2010

Gelukkige meisies

Ek het nog altyd borste vergelyk met emosies. Klein prettige borste is gelukkig en groot hang borste is hartseer. Ek praat altyd van my borste as my girls en tot 2 jaar gelede was my girls gelukkig. Twee honger babas later en hulle is hartseer; en ek praat nie van saggies-in-hoek-huil hartseer nie, ek praat van snikkend-skreeuend-waar-almal-jou-kan-hoor hartseer.

Vandat pappa egter gesê het dis nou bietjie my beurt om iets te kry en ek op nuwe boobies besluit het, kan ek myself nie meer in die spieël kyk nie. Ek besluit toe om die plastiek dokter te gaan sien. Hulle is bietjie vol en ek moet so maand wag, ek reken siende ek nou al 15 jaar wag, sal 'n maand seker nie die appelkar omgooi nie.

D-dag breek aan en ek vind myself in die spreekkamer saam met 'n jonger meisie en 'n oom van ongeveer 60. Ek probeer om nie te wonder waarvoor hulle hier is nie. Die meisie verstaan ek nog, maar die gedagtes wat in my kop opkom oor die oom is gevaarlik. Hy is seker hier vir sy spatare, maar die woorde lewensgevaarlike penis reduksie kom in my kop op (ek weet nie waar hierdie goed vandaan kom nie, my kop is bleikbaar 'n gevaarlike plek.)

Eindelik is dit my beurt en ek is so op my senuwees soos laas toe Jannie du Plooy my langs die skoolsaal gevry het. Ek probeer onthou wanneer 'n vreemde man laas my girls gesien het, maar dit is so lank terug en tien teen een nie 'n goeie herhindering nie, want my brein het dit uitgevee.

"Vir watter area is jy hier, want ek sien geen probleme nie." sê die dokter. (Ek is seker hy sê dit vir almal, maar nietemin, browny punte vir hom.)

"Die boobie area," is al wat ek kan uitkry (ek klink soos 'n 2-jarige op speed.)

"Nou maar trek vir my uit dan kyk ons."

Wat volgende gebeur is bietjie van 'n blur (ek dink my brein het dit ook uitgevee) maar die girls is deur hel. Hulle is opgelig, bespreek, kant toe geskuif en fotos van geneem. Uiteinde van die saak is die 13de Desember kry hulle 'n langverwagte face-lift. Ek is baie opgewonde daaroor, maar die girls is effens kwaad en daar is niks so erg soos hartseer woede nie...

Thursday, November 4, 2010

Die laaste sê

Ek het nou al heelwat e-mails en smse ontvang oor die naweek se Currie Cup en het gedink ek moet ook maar my opinie lig vir wat dit werd is. Hier is my boodskap aan die Sharks;

Julle het nou wel;


Maar ons het;


En om een of ander rede voel ek ons het die beter deal gekry...

PS. Net omdat mense van Natal altyd maak of hulle nie Afrikaans verstaan nie is daar 'n engelse weergawe ook: (Net sodat ons enige onduidelikheid uit die weg kan ruim.)

The Fat lady sings

Wednesday, October 6, 2010

Ek moes die ouerskap handleiding gelees het


Babas moes saam met handleidigs gekom het. O wag, daar is 'n paar beskikbaar. Miskien moet ek eerder sê: ek moes 'n paar handleidings gelees het voordat ek kinders gehad het. Maar nee, ek is mos 'n blommekind, glo vas my moederlike instink sal sorg dat my kinders min of meer normaal anderkant uitkom. (Toemaar, ek het alreeds 'n fonds gestig vir hulle sielkundige behandeling.)

My vriendin kuier nou die dag by my. Haar seuntjie is so 2 maande jonger as my Lisa. Op 'n stadium wys hy met sy klein vingertjie na 'n voorwerp en sê: "mamma, blou." Daar tref dit my toe soos 'n emmer koue water teen die voorkop; ek het die f*ken kleure vergeet.

Lisa kan 123, ABC en selfs al haar eie naam sê, maar weet nie die verskil tussen blou, geel en groen nie. My moederlike instink het heeltemal verby die kleure afdeling gegaan. Dit mag een van daai breinselle wees wat ek verloor het tydens my roekelose jeug.

Ons het dus nou inderhaas begin met kleure, maar op die oomblik het nog net "groen" vasgesteek en ook nie baie goed nie, want alles is groen. Selfs haar pienk bakkie is ook groen, of eerder "goen" soos sy dit sê. Nie heeltemal wat ek in gedagte gehad het nie, maar ek reken dis 'n begin.

Kommin met 'n hoofletter K


Ek is nog altyd van mening dat my volk 'n blou streep weg het. Ek sluit myself natuurlik nie uit nie - na twee glase wyn ken ek elke woord van "ek het 'n toeter op my water skoeter." Sommige van ons probeer egter baie hard om die blou te verbloem - ek het gereken as ek uit Pretoria wegtrek en my semi-soet vir Pinotage verruil, is daar geen manier dat die blou my tot in Durbanville sal kan volg nie...
Groot was my verbasing dus toe ek onlangs in een van Durbanville se meer toonaangewende geskenke winkels rondloop en so tussen die Carol Boyes broodmesse en Wonky Ware breekgoed iets gewaar wat my na my asem laat snak. 'n Dosie plastiek boob balle met die woorde "feels like the real thing" in grootdruk op die kant. My eerste gedagte toe ek een optel, was "I think not" en my tweede gedagte was "waar op aarde is ek." Ek kon natuurlik ook nie help om te wonder of ek nie maar ene moet koop vir my seuntjie vir wanneer ek binnekort weer begin werk nie ... jy weet, net vir ingeval hy my mis.
Dit is toe dat ek maar die balletjie terug sit, my Oakley donkerbrille opsit en stadig wegstap. Ek dink darem nie iemand het my gesien nie.

Wednesday, September 8, 2010

Die lyne van my lyf


Ek luister na Abel Kraamsaal se nuwe cd, waar hy sing van sy naam tussen iemand se blaaie uitkrap en my eie blaaie trek skoon saam van heimwee. Wanneer laas het enige iemand sy naam kom uitkrap tussen my blaaie, of enige ander plek op my lyf?

Ma-word verander die lyne van jou lyf. Jou eens verleidelike 'cleavage' is deesdae kos en kussing. Die rondings van jou heupe en boude het 'n skoot geword. Jou mond is daar vir troos, liedjies sing en storie vertel. Jou hande vryf die seer weg en jou rug is 'n perdjie. Nie dat ek kla nie, ek het altyd geweet my lyf het praktiese gebruike ook...

Ek is egter vasbeslote om die gebruik van my lyf terug te neem (al is dit net vir vanaand.) Die kinders gaan vroeg slaap en Pappa beter sy lucozade drink, want ons het geen idee hoe diep daai lyne begrawe is nie...

Friday, July 16, 2010

'n Manne ding


My seuntjie, Evan Pieter Langenhoven, is 3 weke te vroeg op 2 Junie 2010 gebore. Dit bring die getal mans en vrouens in my huis op 'n gelyke skaal 2 teen 2, alhoewel my dogtertjie so rof is, dat dit meer voel soos 3 teen 1, maar sy is nou eers twee, so ek het nog tyd.

My man het 'n nuwe passie (sy woord; ek reken 'obsessie' som dit beter op)vir gewere. Hy het 'n klein fortuintjie spandeer op 'n jaggeweer en 'n haelgeweer. Sy pa het hom vir 'n jaar ingeteken op 'Magnum' ('n geweer tydskrif) vir sy verjaarsdag, waarvan hy tot die advertensie bladsy al elke aand vir die laaste week deurlees. Sodat hy kan weet hoeveel dinge kos, is sy verweer. (Ek sê mos; obsessie.)Hy het tot 'n gekamofleerde hoed uit Amerika bestel, wat vir my soos iets lyk wat jy tien teen een by die ko-operasie kon koop. So twee dae na Evan se geboorte begin my man praat van nog 'n geweer koop - vir sy laaitie. 'Kan ons eers wag totdat hy sy naam in die sand met sy eie piepie kan skryf,' was die enigste reaksie wat ek onder my hospitaal laken kon uitrky terwyl my 2.8kg bondeltjie aan my bors hang. Ek was miskien op pyndempers, maar so bedwelm is ek nog nie.

Ok, so ek kry dit nie. Die hele in-die-veld-agter-'n-bossie-lê-in-die-middel-van-die-winter ding gaan my verstand te bowe. En dit vir vleis wat niemand regtig wil eet nie (al laat jy dit vir 'n week in karringmelk lê en gooi jy hoeveel naeltjies en puff pastry bo-op.) Waarvoor jy boonop 'n drukkoker nodig het wat die reuk van wildsvleis vir 'n week in jou huis laat hang. Dit was egter toe ek die week by my paediater noem dat my man vir my seun 'n geweer wil koop en dat ons nie eers weet of die arme kind diere sal wil doodmaak nie wat hy vir my sê; "hy sal wil, dis 'n manne ding" en die volgende oomblik vir my fotos van sy seun se eerste koedoe wys, wat dit tot my deurdring; party dinge moet dalk nooit verstaan word nie.

My man wou vandag weet wat ek graag wil hê, aangesien hy nou vir eers alles het wat hy wil hê (3 gewere en 2 golfstelle later...) Ek sê toe maar die eerste ding bo-aan my duur lysie: nuwe boobs. Siende dit ook soortvan 'n manne ding is, het ek gereken geen verdere verduideliking sal benodig word nie. Ek was reg.

Friday, April 16, 2010

Ekstra stoorruimte



Ek het redelik voor in die ry gestaan die dag to boobs uitgedeel is. Om die waarheid te sê ek dink ek was omtrent so 4de. Nie dat ek kla nie, die 'girls' het my al deur die jare deur 'n paar moeilike situasies gehelp en al gesorg vir redelik baie gratis drankies. Soos ek altyd sê "if you've got them, flaunt them." Dis in elk geval meer moeite om hulle te probeer toemaak. Dit verskaf ook vir my ure se ligte gesinsvermaak om te kyk hoe hard party mans probeer om nie te staar na die 'cleavage' nie. Selfs die goed opgevoede seuns uit goeie huise wat beweer hulle is eintlik maar 'n 'ass-man' sukkel selfs. Nie dat ek die fassinasie verstaan nie, dit is egter iets wat hulle ma ook het...


Soveel genot as wat die girls my deur die jare verskaf het, het ek egter nooit kon droom watter praktiese nut hulle eendag vir my sal inhou nie. Onlangs het ek Lisa se 'dummy' daarin weggesteek, sodat sy dit nie kan kry nie (hulle suig mos die goed tydig en ontydig.) Dit was die oggend. Toe ek die aand my klere uittrek om te bad val die 'dummy' op die vloer. Ek het skoon vergeet die ding was daar (wat jou 'n idee gee van die grootte van my huidige cleavage.) En ewe skielik het ek ekstra stoorruimte - en almal weet hoe nuttig dit kan wees...




Thursday, March 18, 2010

Kuier is vir die voëls

My man reken ons lewe is besig om by ons verby te gaan, omdat ek nie wil uitgaan nie. Die mense wat my ken sal vinnig vir jou laat weet ek is voor in die koor vir 'n goeie kuier, maar nie as ek lyk soos 'n klein seekoei'tjie nie (case and point die foto aan die bokant van die artikel.)

Vir die wat nog nooit swanger was nie, kom ek skets vir jou 'n tipiese aandjie uit (dit sluit in restaurant kuiers, braai, rugby kyk en enige ander aangeleentheid waar drank gewoontlik betrokke is.) Dit begin gewoontlik of laatmiddag of in die aand - teen hierdie tyd is die tipiese swanger vrou se rug seer van heeldag pens en boobs ronddra. (Gaan loop maar vir 'n dag lank met rugsak vol waterballonne, vasgemaak aan jou voorkant en laat weet my hoe jou rug voel aan die einde van die dag.) Dan word daar verwag dat jy met jou seer ongemaklike lyf op harde plastiek stoeltjies moet sit wat gekoop is meer vir hulle estetiese waarde as gemak.

Hoe langer die aand word, hoe dronker (en natuurlik slimmer) word al die mense om jou. Die vriendin van 'n vriendin wat jy nog net twee keer van tevore ontmoet het, deel met jou haar hele verhaal van hoe sy sukkel om swanger te word. Teen die einde van die aand sal jy presies weet wanneer sy ovuleer, hoeveel keer 'n week sy seks het, maar jy sukkel nog steeds om haar naam te onthou. En dit vertel sy alles vir jou terwyl sy haar brandewyn nurse en 2 pakkies Lexingtons rook. Een van jou man se vriende voel dit nodig om vir jou te vertel dat jy sy tipiese droomvrou is. Die vriendin wat 'n eed geneem het om nooit kinders te kry nie, vertel ten minste een keer elke 20 minute vir jou hoe braaf sy dink jy is en hoe sy dit NOOIT sou kon doen nie. Daar is so hier en daar 'n vriendin wat haar ewigdurende vriendskap en liefde tranerig aan jou verklaar en jy is dink iemand het aan jou boud gevat, maar jy kan dit nie met sekerheid sê nie, want jy het al 3 ure terug alle gevoel in daardie area verloor.

Teen die tyd wat jy eet (dis nou as jy dit so lank kan uithou) is die tjops verbrand, die botter op die knoffelbroodjie nog kliphard en koud en die avo in slaai al bruin.

Teen 21h30 is daar slegs drie gedagtes wat deur jou kop gaan; 1 - sal dit ongeskik wees as ek 22h00 al loop, 2. klink ek ook so as ek gedrink het en 3. praat my vriende altyd so baie nonsens of is dit net vanaand...

So as my man begin met sy "lewe wat besig is om by hom verby te gaan" het ek gewoontlik net een antwoord; geen mens is gebou om nugter te kuier nie, so laat hy maar verby gaan.

Tuesday, January 26, 2010

Sê Nee vir Tee

Ek was nog nooit groot op 'n koek en tee nie. Koek, vir my, is iets wat jy op jou verjaarsdag eet en as jou boyfriend jou gelos het en tee is iets wat jy 10h00 in die oggend by die werk drink tydens jou teebreuk (dit is immers waar die naam vandaan kom.)



'n Tee situasie wat my heeltemal ontsenu is begrafnisse. Asof jy nie hartseer genoeg is nie, word daar nog van jou verwag om tee te drink waarin jou lepel regop staan en toebroodjies te eet wat twee dae terug gemaak is, en van binne af buite toe reeds bietjie nat is. Ek wonder net altyd of die susters van die wyk besef hoe naby van hierdie mense op daardie oomblik aan die afgrond beweeg. Ek is seker 'n nat toebroodjie sal hulle finaal in 'n depressie instuur. As ek die dag die emmer skop, hoop ek my mense sal genoeg sin hê om kaasborde te reël (en goeie rooiwyn, natuurlik.)



Dit was ook vir my 'n redelike krisis toe ek my vriendin se ooievaarstee (klem op die woordjie tee) moes reël. My suster was onlangs by 'n ooievaarstee waar elkeen 'n persentjie gekry het (kersies, of wierook of iets dergliks) en 'n kaartjie met 'n strikkie aan. Die kaartjie het elke persoon gevra om die strikkie om haar handsak te bind en dan elke keer aan die Mamma te dink as hulle na die strikkie kyk. (Ek het nou nie bewyse nie, maar ek sal my laaste drankgeld daarop sit dat die vrou wat dit gereël het ook hoofmeisie van haar skool en primaria van haar koshuis was. Ou uitblinker!)


Ek laat my egter afsit nie en gaan koop toe 'n paar linte. Dit het baie mooi gelyk om die wynbottels! (My vriendinne waardeer alkohol in elk geval baie meer as kersies.) Dit was natuurlik ook 'n bonus om 'n verskoning te hê om 11hoo in die oggend al te mag drink en nie soos alkoholiste te lyk nie. Veral as daar oor ernstige dinge soos voortplanting gepraat word...

Friday, January 15, 2010

'n Plek waar tyd stilstaan

Daar is 'n plek waar die tyd stilstaan
waar mense nog biddae hou vir reën
en vir middagetes huis toe gaan
en as dit moet jy gou 'n koppie suiker by die buurman kan leen

Daar is 'n plek waar kinders nog kaalvoet skool toe loop
en jy die reën in die grond kan ruik
waar jy gebreide hangeroortreksels by kerkbazare kan koop
en mense jou nog in die oë kan kyk

Daar is 'n plek waar jy nog tuisgemaakte konfyt kan kry
en toiletpoppe oor die toiletpapier
waar jy verniet die hele week kan eet en bly
en jou ma nog steeds jou buie verduur

dit is daar waar ek altyd 18 sal wees
en my onskuld in jou hart sal bly
waar jy nog die drome in my oë kan lees
en miskien altyd bietjie lief sal wees vir my

daar is 'n plek waar tyd stilstaan
as ek mooi vra,
sal jy saam met my gaan?