Ons is mos maar almal 'n bietjie kommin. Elke iemand het daai spreekwoordelike 'boetie in die tronk' in hulle familie. Ek self spog met 'n voorsaat of twee wat babapienk hoëhakskoene en ski pants gedra het en lang cigarettes gerook het saam met hulle brandewyn en coke. En alhoewel ons met die jare geleer het om onsself redelik te gedra, slaan die blou tog maar deur so af en toe, veral na so paar glase (brande)wyn.
Myne het gewoontlik sigbaar geword in my keuse van mans. Hoe ek dit reggekry het om met 'n vooraanstaande (redelike normale) man te trou is nog steeds bietjie van 'n wonderwerk. Ek reken dit het dalk iets met my ma se gebede te doen gehad (ek dink ek het my ma vir 25 jaar op haar knieë gehou.) Voor my (vooraanstaande, redelike normale) man het ek 'n hele sirkus deurgedraf wat varieer tussen twee chefs (ek het 'n ding vir 'n man wat kan kosmaak), 'n pool kampioen, 'n politikus, 'n rugbyspeler en op my laagste laag was daar 'n barman met baie issues (ek praat nie eintlik oor hom nie.)
As ek nou terugdink aan my kleurvolle jeug, kan ek seker maar net my kop skud en 'n bietjie in my mou lag. Ek kan maar net hoop my man se gene is sterk genoeg om my blou bietjie te onderdruk in my meisiekind. Indien nie, kan ek gelukkig met trots aankondig ek ken die gevaartekens en ek is nie bang om Lisa toe te sluit vir ten minste 30 jaar nie. Ek is gelukkig ook redelik gemaklik op my knieë, so ek sal maar baie tyd daar spandeer, net vir ingeval.
No comments:
Post a Comment