Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Monday, November 30, 2009

Kroeë en bokkoppe

  1. Ons is op soek na 'n nuwe huis. Nie dat ons huis nou al heeltemal verkoop is nie, maar ons is ten minste optimisties. Ons was gister weer van skouhuis tot skouhuis en ek sal jou nie eers verveel met die belaglike pryse wat mense deesdae vir gehuggies vra nie. Ons het nog op niks afgekom wat regtig die ligte laat aangaan nie, maar ek het wel gesien wat ek nie wil hê nie;

'n Kroeg. Miskien is dit die feit dat ek in 'n plek soos Vryburg grootgeword het waar mans altyd om die kroeg gesit het en die vrouens in die sitkamer. Ek haat 'n kroeg in 'n huis. Ek kan om die dood nie dink hoekom 'n mens jou drank so wil uitstal vir die wêreld om te sien nie. Jy kan net sowel 'n groot kennisgewingbord daar laat opsit: 'HIER DRINK ONS.' As my man die dag besluit hy wil 'n kroeg hê, sal hy vir hom 'n buitekamer vir die doel moet aanbou. En die ruite laat 'tint' dat mens nie van buite af kan insien nie.

Bokkoppe teen die muur. Daar is min dinge wat my so ontsenu soos dooie diere teen 'n muur. As dit dan moet, hang maar 'n foto op waar jy met jou bebloede gesig en wapen kniel langs die lewelose dier, maar moet net nie die goed opstop en teen 'n muur hang nie. Ons is nie Amerikaners nie. Ons bly in Afrika en jag is nou maar net een van daai dinge wat ons in die winter doen wanneer Hartenbos te koud is. Moenie maak of jy niks gewoond is nie. Hierdie een sal ek nie eers toelaat in die buitekamer met sy getinte ruite nie.

'Jacuzzis' Moet asseblief nie dink jy bederf my met 'n borrelbad in 'n huis nie. Tensy dit in die hoofslaapkamer se 'en-suite' is en jy weet dis vir privaat gebruik. Ek praat van daai borrelbaddens wat langs die kroeg staan of in die tuin. Daai een wat jy weet al 'n paar onsedelike dade in sy leeftyd gesien het. Daai wat altyd so 'n olie lagie bo-op het na 'n partytjie. Ek probeer dink wanneer dit mode was; moes gewees het tydens een of ander dwelm fase soos die sewentigs en tagtigs.

Daar is nog 'n paar, maar ek sal eerder nou ophou, want netnou dink julle ek is vol nonsens (en ek is so nie.) Daar is egter hierdie laaste twee wat ek van my hart af sal moet kry; mense wat hulle voortuin plavei omdat hulle nie gras wil sny nie en huise wat toegerank is (ek kan net dink hoeveel spinnekop en slangfamilies lê en wag dat jy 'n venster moet oopmaak.)

Thursday, November 19, 2009

'n man soos jan


Dit het gekom! Die ontvangsdame het my laat weet daar is vir my 'n pakkie by ontvangs en ek het dadelik geweet wat dit is. Danksy Look 'n Listen skeur ek my weg van die marktender waarmee ek besig is en haas my by twee stelle trappe af. Ek voel soos 'n kind op Oukersaand. Ek plaas 'n man soos jan se cd, die ritme van jou naam, in my rekenaar en luister met my oorfone na woorde soos


Jou lyf is my oase, jou hart is die fontein

Jou oë so groen soos olywe, jou lippe proe soos wyn

Jy is die nomade in my lewe se woestyn

Ek en jy my baby is soos yster en satyn.


Ek het letterlik hoendervleis. Hoe ek verder moet werk sal die Hemel alleen weet. Daar is ook drie duets op die cd saam met Jak de Priester, Lize Beekman en Richard van der Westhuizen, wat boekdele spreek oor die talent wat hier raakgesien word. Ek kan dit aanbeveel as jy soos ek van mooi woorde hou (sy stem is ook glad nie sleg nie.)

Wednesday, November 18, 2009

Hartswoorde


Ek hou van van liedjies met mooi woorde. Ek hou van sangers wat hulle eie goed skryf. Stories, wat vir my klink asof dit al met my gebeur het, soos Lize Beekman of Jan Blohm. Ek het onlangs hierdie liedjie raakgelees (nog nie geluister nie, maar slegs raakgelees) van Hanno van Heerden of 'n man soos Jan soos sy verhoogspersoonlikheid bekend staan. Na 'n lang gesukkel het ek die cd in die hande gekry wat nou oppad is in die pos. As ek dit geluister het sal ek julle laat weet, maar vir eers, laat hierdie jou nie verlang nie?


Die ritme van jou naam

Dis nie dat ek jou mis nie

Dis net dat ek wil weet

Sukkel jy ook somtyds

om van alles te vergeet

En drink jy ook nog rooiwyn

as jy na 'n vreemdeling verlang

En is jy nou al sterker

of maak dit jou nog bang

Haat jy nog daai fênsie woorde

wat die jonges so gebruik

Is jou hart nog so groot soos

die weduwee se kruik?

En die waaroms word nie minder nie

want die hoekoms word net meer

En die heelmaak van jou wonde

gaan gepaard met soveel seer

Dis nie dat ek verlang nie

maar ek dink nou ek verstaan

Ek verlang nie maar ek mis net

ja ek mis maar net die ritme van jou naam.

Lê jy klokslag nog met nuwemaan

op die gras voor ons ou huis

En laaik jy dit nog steeds om al die sterre

met jou vinger uit te wys

En dra jy nog steeds die pyle

in die koker van jou hart

om jouself te kan regverdig

en al jou brue af te brand

Fluister jy nog steeds uit woede

instede van te skree

En skryf jy nog gedigte

van daai sinkdak en die reën.


In Limbo

Ek wil hardloop, maar my voete raak nie die grond nie. Dis hoe ek tans voel; alles hang so half in die lug. Ek is half swanger, ons huis is soortvan verkoop en ek het geen idee wat ek besig is om met my lewe te doen nie. Daar was 'n tyd in my lewe wat hierdie tipe van onsekerheid 'n goeie ding was; ek kon depressief wees, myself jammer kry en saam met rooiwyn baie gedigte skryf. Nou is daar nie tyd vir myself jammer kry nie. Te veel mense wat antwoorde en aandag soek. Nou dadelik.

Ek wens ek kon dit weer geniet om in die lug te hang. Maar my voete wil hardloop en ek raak nie die grond nie.

Tuesday, November 10, 2009

Stukkies

my hartswoorde wat in jou ore lê
my trane en my lag
my skop en skree
was alles stukkies van my
wat ek vir jou wou gee

sal jy dit vir my veilig hou
êrens in die gange van jou hart
en dit met jou sagtheid toevou
sodat ons miskien eendag weer
as al die geraas ophou
die stukkies weer heel kan bou

Friday, November 6, 2009

Plastiek eendjies

Ek kon nog altyd wegkruip in 'n skuimbad as die wêreld vir my te veel word. 5 Minute in die warm water en die lewe maak weer sin. My badkamer is vêr van die TV af, wat beteken ek hoef nie na die PGA kommentaar te luister nie en ek ek kan ook nie hoor as my man my roep nie. My badkamer was dus nog altyd my oase. Tot onlangs...

Badtyd beteken deesdae plastiek eendjies en no more tears badskuim (ek ruik soos 'n melkskommel as ek klaar is.) Ek sit met my boude op 'n plastiek vierkant wat moet keer dat ek gly en versuip. 2 Minute nadat ek ingeklim het verskyn daar twee potblou ogies langs die bad wat met alle geweld probeer inklim en as sy dit nie regkry nie, begin dit vreeslik te kerm; 'mamma mamma' wat dan ook die einde van my badtyd beteken.

Oase: I think not.

Wednesday, November 4, 2009

1 Jaar


Before you were conceived I wanted you.
Before you were born I loved you.
Before you were here an hour I would die for you.
This is the miracle of life.
- Maureen Hawkins -

Ek kan met gemak sê dat ek op die jeugdige (ok, ek probeer myself oortuig) ouderdom van 30 'n redelike vol lewe gehad het en ek kan ook met 'n tikkie nostalgie sê dat ek al baie lekker dinge in my lewe gedoen het. Maar, van al die goed wat ek al egter gedoen het, is daar niks so lekker soos om my slapende meisiekind in my arms vas te hou nie.

My blommetjie het die naweek 1 geword en ek vier saam met haar my volste, mees vervullendste jaar nog. Sy het my lewe onherroeplik verander en alhoewel nie altyd makliker nie, het sy dit defnitief beter gemaak.

In die laaste jaar het ek soveel dinge wyser geraak wat ek nooit sonder haar sou uitvind nie soos bv;
  • Die mooiste woorde op aarde is 'my mamma'

  • Niks is meer belangrik as 'n drukkie nie.

  • Oopbek soene is beter as tjoklits

  • Om 'n toiletrol af te rol kan ure se pret verskaf.

  • Die lekkerste ding in my kosblik is 'n appel met klein lisa bytmerkies (sy haal elke appel uit die vrugtebak, gee dit 'n byt met haar 4 tandjies en sit dit weer terug. Daar is nie een ongebyte appel in my bak nie.)

  • Haar wysvinger pas perfek in my neusgat in

  • Mamma se skoene is beter speelgoed as poppe

  • Jy word gebore met 'n lus vir dans (sy kon skaars sit, maar as daar musiek speel begin die lyfie beweeg.)

  • Jy hoef nog nie te kan praat om 'n grapgat te wees nie.

  • Die 'drame queen' geen is oorerflik.

  • Daar is meer liefde in my hart as wat ek gedink het menslik moontlik is.

En laastens; hoe lekkerder die kos, hoe groter die gemors.


Toe nie 'n speelding nie

Ek het die naweek 'n baie raak beskrywing vir myself raakgelees op 'n man (wat heel duidelik op sy bachelors was) se T hemp: 'Ek het gedog dis 'n speelding; maar toe is dit al die tyd 'n teelding.' Hiermee stel ek myself ook amptelik beskikbaar as motiveringspreker vir die Telers Assosiasie van Suid-Afrika. En vir die wat dit nog nie kon ontsyfer nie, ekstra klasse is beskikbaar elke Woensdagaand na 5.

Ja, ek is weer swanger. Dit het ietwat as 'n skok gekom, want ons was nie amptelik besig om te probeer nie. Ek het vir een hele dag net gelag en toe was ek kwaad en nou is ek opgewonde (gelukkig is ek duidelik emosioneel stabiel...) Dit is nog maar vroeg en die mense met verstand sal sê mens wag 12 weke voordat jy vir iemand sê jy is swanger. Ongelukkig dra ek mos my hart op my mou en ek glo nie aan alleen huil nie, so nou moet julle maar saam dra (excuse the pun.)

Daar was darem deur dit alles een interessante toneeltjie waaroor ek maar net kon lag - toe ek die oggend vir die bloedtoets gegaan het die suster heel oortuig vir my gesê sy is seker ek is swanger, want kyk hoe lyk my boobs. Ek het afgekyk na die girls, my kop geskud en baie trots vir haar gesê: "nee, hulle lyk maar altyd so."

Die bietjie blou

Ons is mos maar almal 'n bietjie kommin. Elke iemand het daai spreekwoordelike 'boetie in die tronk' in hulle familie. Ek self spog met 'n voorsaat of twee wat babapienk hoëhakskoene en ski pants gedra het en lang cigarettes gerook het saam met hulle brandewyn en coke. En alhoewel ons met die jare geleer het om onsself redelik te gedra, slaan die blou tog maar deur so af en toe, veral na so paar glase (brande)wyn.

Myne het gewoontlik sigbaar geword in my keuse van mans. Hoe ek dit reggekry het om met 'n vooraanstaande (redelike normale) man te trou is nog steeds bietjie van 'n wonderwerk. Ek reken dit het dalk iets met my ma se gebede te doen gehad (ek dink ek het my ma vir 25 jaar op haar knieë gehou.) Voor my (vooraanstaande, redelike normale) man het ek 'n hele sirkus deurgedraf wat varieer tussen twee chefs (ek het 'n ding vir 'n man wat kan kosmaak), 'n pool kampioen, 'n politikus, 'n rugbyspeler en op my laagste laag was daar 'n barman met baie issues (ek praat nie eintlik oor hom nie.)

As ek nou terugdink aan my kleurvolle jeug, kan ek seker maar net my kop skud en 'n bietjie in my mou lag. Ek kan maar net hoop my man se gene is sterk genoeg om my blou bietjie te onderdruk in my meisiekind. Indien nie, kan ek gelukkig met trots aankondig ek ken die gevaartekens en ek is nie bang om Lisa toe te sluit vir ten minste 30 jaar nie. Ek is gelukkig ook redelik gemaklik op my knieë, so ek sal maar baie tyd daar spandeer, net vir ingeval.