Lisa is nou 5 weke oud en begin stadig maar seker persoonlikheid kry. Hierdie is die paar eienskappe wat sy tot dusvêr aan ons geopenbaar het;
1. Sy lyk soos haar pa (gelukkig, want hy is die handsome ene.) Hoe meer ek na hom kyk, hoe meer sien ek haar. Ek weet dis seker veronderstel om andersom te werk, maar ek sien my kind in my man se gesig en dit is die mooiste gesig wat ek ken.
2. Sy het haar pa se tone (ongelukkig nie die mooiste tone op aarde nie, maar aan haar lyk dit nogal oulik.)
3. Dit wil voorkom of sy haar ma se plat boude gekry het, maar gelukkig is daar nog tyd.
4. Sy het my slaapmaniere gekry - trek die kombers bo-oor haar kop (ek moet haar letterlik in die oggende soek soos sy haarself toetrek) en slaap met een arm bo-op haar gesig.
5. Sy het 'n dieselenjin soos haar pa - as sy eers slaap, kry jy haar nie sommer wakker nie (behalwe natuurlik as jy glad nie wil hê sy moet wakker word nie.)
6. Sy is 'n drama-queen soos haar ma. Sy het reeds elke gesigtrek in die boek vervolmaak en sy skreeu nie baie nie, maar as sy dag besluit om 'n keel op te sit, is dit genoeg om jou dood in jou spore te laat stop. (Ek kan nie wag totdat sy speelgoed kan rondgooi nie...)
7. Sy het sulke vol Angelina Jolie lippe, ons is nie seker nie, maar ons dink sy't dit by haar tannie Carla gekry.
8. Sy is verskriklik soet. Ons het geen idee waar dit vandaan kom nie...







'n Joodse vriend van my het eenkeer aan my vertel dat jy slegs natuurlik 'n Jood kan wees as jou ma 'n Jood was. Want, het hy gesê, jy kan altyd met sekerheid sê wie jou ma is. Of dit waar is, weet ek nie, maar dit is seker die een ding wat jy met sekerheid kan weet. Asook wie jou broers en susters is aangesien hulle dan ook uit dieselfde ma gekom het. Daar is baie argumente oor die dikte van bloed teen water en meestal stem ek daarmee saam.