Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Monday, November 30, 2009

Kroeë en bokkoppe

  1. Ons is op soek na 'n nuwe huis. Nie dat ons huis nou al heeltemal verkoop is nie, maar ons is ten minste optimisties. Ons was gister weer van skouhuis tot skouhuis en ek sal jou nie eers verveel met die belaglike pryse wat mense deesdae vir gehuggies vra nie. Ons het nog op niks afgekom wat regtig die ligte laat aangaan nie, maar ek het wel gesien wat ek nie wil hê nie;

'n Kroeg. Miskien is dit die feit dat ek in 'n plek soos Vryburg grootgeword het waar mans altyd om die kroeg gesit het en die vrouens in die sitkamer. Ek haat 'n kroeg in 'n huis. Ek kan om die dood nie dink hoekom 'n mens jou drank so wil uitstal vir die wêreld om te sien nie. Jy kan net sowel 'n groot kennisgewingbord daar laat opsit: 'HIER DRINK ONS.' As my man die dag besluit hy wil 'n kroeg hê, sal hy vir hom 'n buitekamer vir die doel moet aanbou. En die ruite laat 'tint' dat mens nie van buite af kan insien nie.

Bokkoppe teen die muur. Daar is min dinge wat my so ontsenu soos dooie diere teen 'n muur. As dit dan moet, hang maar 'n foto op waar jy met jou bebloede gesig en wapen kniel langs die lewelose dier, maar moet net nie die goed opstop en teen 'n muur hang nie. Ons is nie Amerikaners nie. Ons bly in Afrika en jag is nou maar net een van daai dinge wat ons in die winter doen wanneer Hartenbos te koud is. Moenie maak of jy niks gewoond is nie. Hierdie een sal ek nie eers toelaat in die buitekamer met sy getinte ruite nie.

'Jacuzzis' Moet asseblief nie dink jy bederf my met 'n borrelbad in 'n huis nie. Tensy dit in die hoofslaapkamer se 'en-suite' is en jy weet dis vir privaat gebruik. Ek praat van daai borrelbaddens wat langs die kroeg staan of in die tuin. Daai een wat jy weet al 'n paar onsedelike dade in sy leeftyd gesien het. Daai wat altyd so 'n olie lagie bo-op het na 'n partytjie. Ek probeer dink wanneer dit mode was; moes gewees het tydens een of ander dwelm fase soos die sewentigs en tagtigs.

Daar is nog 'n paar, maar ek sal eerder nou ophou, want netnou dink julle ek is vol nonsens (en ek is so nie.) Daar is egter hierdie laaste twee wat ek van my hart af sal moet kry; mense wat hulle voortuin plavei omdat hulle nie gras wil sny nie en huise wat toegerank is (ek kan net dink hoeveel spinnekop en slangfamilies lê en wag dat jy 'n venster moet oopmaak.)

Thursday, November 19, 2009

'n man soos jan


Dit het gekom! Die ontvangsdame het my laat weet daar is vir my 'n pakkie by ontvangs en ek het dadelik geweet wat dit is. Danksy Look 'n Listen skeur ek my weg van die marktender waarmee ek besig is en haas my by twee stelle trappe af. Ek voel soos 'n kind op Oukersaand. Ek plaas 'n man soos jan se cd, die ritme van jou naam, in my rekenaar en luister met my oorfone na woorde soos


Jou lyf is my oase, jou hart is die fontein

Jou oë so groen soos olywe, jou lippe proe soos wyn

Jy is die nomade in my lewe se woestyn

Ek en jy my baby is soos yster en satyn.


Ek het letterlik hoendervleis. Hoe ek verder moet werk sal die Hemel alleen weet. Daar is ook drie duets op die cd saam met Jak de Priester, Lize Beekman en Richard van der Westhuizen, wat boekdele spreek oor die talent wat hier raakgesien word. Ek kan dit aanbeveel as jy soos ek van mooi woorde hou (sy stem is ook glad nie sleg nie.)

Wednesday, November 18, 2009

Hartswoorde


Ek hou van van liedjies met mooi woorde. Ek hou van sangers wat hulle eie goed skryf. Stories, wat vir my klink asof dit al met my gebeur het, soos Lize Beekman of Jan Blohm. Ek het onlangs hierdie liedjie raakgelees (nog nie geluister nie, maar slegs raakgelees) van Hanno van Heerden of 'n man soos Jan soos sy verhoogspersoonlikheid bekend staan. Na 'n lang gesukkel het ek die cd in die hande gekry wat nou oppad is in die pos. As ek dit geluister het sal ek julle laat weet, maar vir eers, laat hierdie jou nie verlang nie?


Die ritme van jou naam

Dis nie dat ek jou mis nie

Dis net dat ek wil weet

Sukkel jy ook somtyds

om van alles te vergeet

En drink jy ook nog rooiwyn

as jy na 'n vreemdeling verlang

En is jy nou al sterker

of maak dit jou nog bang

Haat jy nog daai fênsie woorde

wat die jonges so gebruik

Is jou hart nog so groot soos

die weduwee se kruik?

En die waaroms word nie minder nie

want die hoekoms word net meer

En die heelmaak van jou wonde

gaan gepaard met soveel seer

Dis nie dat ek verlang nie

maar ek dink nou ek verstaan

Ek verlang nie maar ek mis net

ja ek mis maar net die ritme van jou naam.

Lê jy klokslag nog met nuwemaan

op die gras voor ons ou huis

En laaik jy dit nog steeds om al die sterre

met jou vinger uit te wys

En dra jy nog steeds die pyle

in die koker van jou hart

om jouself te kan regverdig

en al jou brue af te brand

Fluister jy nog steeds uit woede

instede van te skree

En skryf jy nog gedigte

van daai sinkdak en die reën.


In Limbo

Ek wil hardloop, maar my voete raak nie die grond nie. Dis hoe ek tans voel; alles hang so half in die lug. Ek is half swanger, ons huis is soortvan verkoop en ek het geen idee wat ek besig is om met my lewe te doen nie. Daar was 'n tyd in my lewe wat hierdie tipe van onsekerheid 'n goeie ding was; ek kon depressief wees, myself jammer kry en saam met rooiwyn baie gedigte skryf. Nou is daar nie tyd vir myself jammer kry nie. Te veel mense wat antwoorde en aandag soek. Nou dadelik.

Ek wens ek kon dit weer geniet om in die lug te hang. Maar my voete wil hardloop en ek raak nie die grond nie.

Tuesday, November 10, 2009

Stukkies

my hartswoorde wat in jou ore lê
my trane en my lag
my skop en skree
was alles stukkies van my
wat ek vir jou wou gee

sal jy dit vir my veilig hou
êrens in die gange van jou hart
en dit met jou sagtheid toevou
sodat ons miskien eendag weer
as al die geraas ophou
die stukkies weer heel kan bou

Friday, November 6, 2009

Plastiek eendjies

Ek kon nog altyd wegkruip in 'n skuimbad as die wêreld vir my te veel word. 5 Minute in die warm water en die lewe maak weer sin. My badkamer is vêr van die TV af, wat beteken ek hoef nie na die PGA kommentaar te luister nie en ek ek kan ook nie hoor as my man my roep nie. My badkamer was dus nog altyd my oase. Tot onlangs...

Badtyd beteken deesdae plastiek eendjies en no more tears badskuim (ek ruik soos 'n melkskommel as ek klaar is.) Ek sit met my boude op 'n plastiek vierkant wat moet keer dat ek gly en versuip. 2 Minute nadat ek ingeklim het verskyn daar twee potblou ogies langs die bad wat met alle geweld probeer inklim en as sy dit nie regkry nie, begin dit vreeslik te kerm; 'mamma mamma' wat dan ook die einde van my badtyd beteken.

Oase: I think not.

Wednesday, November 4, 2009

1 Jaar


Before you were conceived I wanted you.
Before you were born I loved you.
Before you were here an hour I would die for you.
This is the miracle of life.
- Maureen Hawkins -

Ek kan met gemak sê dat ek op die jeugdige (ok, ek probeer myself oortuig) ouderdom van 30 'n redelike vol lewe gehad het en ek kan ook met 'n tikkie nostalgie sê dat ek al baie lekker dinge in my lewe gedoen het. Maar, van al die goed wat ek al egter gedoen het, is daar niks so lekker soos om my slapende meisiekind in my arms vas te hou nie.

My blommetjie het die naweek 1 geword en ek vier saam met haar my volste, mees vervullendste jaar nog. Sy het my lewe onherroeplik verander en alhoewel nie altyd makliker nie, het sy dit defnitief beter gemaak.

In die laaste jaar het ek soveel dinge wyser geraak wat ek nooit sonder haar sou uitvind nie soos bv;
  • Die mooiste woorde op aarde is 'my mamma'

  • Niks is meer belangrik as 'n drukkie nie.

  • Oopbek soene is beter as tjoklits

  • Om 'n toiletrol af te rol kan ure se pret verskaf.

  • Die lekkerste ding in my kosblik is 'n appel met klein lisa bytmerkies (sy haal elke appel uit die vrugtebak, gee dit 'n byt met haar 4 tandjies en sit dit weer terug. Daar is nie een ongebyte appel in my bak nie.)

  • Haar wysvinger pas perfek in my neusgat in

  • Mamma se skoene is beter speelgoed as poppe

  • Jy word gebore met 'n lus vir dans (sy kon skaars sit, maar as daar musiek speel begin die lyfie beweeg.)

  • Jy hoef nog nie te kan praat om 'n grapgat te wees nie.

  • Die 'drame queen' geen is oorerflik.

  • Daar is meer liefde in my hart as wat ek gedink het menslik moontlik is.

En laastens; hoe lekkerder die kos, hoe groter die gemors.


Toe nie 'n speelding nie

Ek het die naweek 'n baie raak beskrywing vir myself raakgelees op 'n man (wat heel duidelik op sy bachelors was) se T hemp: 'Ek het gedog dis 'n speelding; maar toe is dit al die tyd 'n teelding.' Hiermee stel ek myself ook amptelik beskikbaar as motiveringspreker vir die Telers Assosiasie van Suid-Afrika. En vir die wat dit nog nie kon ontsyfer nie, ekstra klasse is beskikbaar elke Woensdagaand na 5.

Ja, ek is weer swanger. Dit het ietwat as 'n skok gekom, want ons was nie amptelik besig om te probeer nie. Ek het vir een hele dag net gelag en toe was ek kwaad en nou is ek opgewonde (gelukkig is ek duidelik emosioneel stabiel...) Dit is nog maar vroeg en die mense met verstand sal sê mens wag 12 weke voordat jy vir iemand sê jy is swanger. Ongelukkig dra ek mos my hart op my mou en ek glo nie aan alleen huil nie, so nou moet julle maar saam dra (excuse the pun.)

Daar was darem deur dit alles een interessante toneeltjie waaroor ek maar net kon lag - toe ek die oggend vir die bloedtoets gegaan het die suster heel oortuig vir my gesê sy is seker ek is swanger, want kyk hoe lyk my boobs. Ek het afgekyk na die girls, my kop geskud en baie trots vir haar gesê: "nee, hulle lyk maar altyd so."

Die bietjie blou

Ons is mos maar almal 'n bietjie kommin. Elke iemand het daai spreekwoordelike 'boetie in die tronk' in hulle familie. Ek self spog met 'n voorsaat of twee wat babapienk hoëhakskoene en ski pants gedra het en lang cigarettes gerook het saam met hulle brandewyn en coke. En alhoewel ons met die jare geleer het om onsself redelik te gedra, slaan die blou tog maar deur so af en toe, veral na so paar glase (brande)wyn.

Myne het gewoontlik sigbaar geword in my keuse van mans. Hoe ek dit reggekry het om met 'n vooraanstaande (redelike normale) man te trou is nog steeds bietjie van 'n wonderwerk. Ek reken dit het dalk iets met my ma se gebede te doen gehad (ek dink ek het my ma vir 25 jaar op haar knieë gehou.) Voor my (vooraanstaande, redelike normale) man het ek 'n hele sirkus deurgedraf wat varieer tussen twee chefs (ek het 'n ding vir 'n man wat kan kosmaak), 'n pool kampioen, 'n politikus, 'n rugbyspeler en op my laagste laag was daar 'n barman met baie issues (ek praat nie eintlik oor hom nie.)

As ek nou terugdink aan my kleurvolle jeug, kan ek seker maar net my kop skud en 'n bietjie in my mou lag. Ek kan maar net hoop my man se gene is sterk genoeg om my blou bietjie te onderdruk in my meisiekind. Indien nie, kan ek gelukkig met trots aankondig ek ken die gevaartekens en ek is nie bang om Lisa toe te sluit vir ten minste 30 jaar nie. Ek is gelukkig ook redelik gemaklik op my knieë, so ek sal maar baie tyd daar spandeer, net vir ingeval.

Tuesday, September 29, 2009

Vader van vele

Ek het op hierdie oulike webwerf afgekom http://www.stamouers.co.za/ Jy kan gaan opsoek wie jou familie se Suid Afrikaanse stamvader is. Myne is Joost Strydom - ek het nie eers geweet dis 'n regte naam nie. Wat egter interessant is is dat hy 'n skoenmaker was. En met daardie stukkie nuttelose inligting het vele dinge skielik vir my sin gemaak...




Monday, September 28, 2009

Daar is altyd 'n eerste keer

The great thing about getting older is that you don't lose all the other ages you've been.

- Madeleine L'engle -

Die klokke moes seker al begin lui het op my 30ste verjaarsdag, maar ek was nog altyd redelik goed met ontkenning. Die tekens was nog die heeltyd daar; kinders wat my tannie noem, die motor wat ons gekoop het vir sy ruim kattebak in plaas van sy vuurwarm kleur en aantreklike lyne en die oulike fiksheids instrukteur by die gym wat my as 'mevrou' aanspreek. Maar dit was vanoggend toe ek in die spieel kyk en besef ek moet op 'n stadium oorweeg om te begin grimering dra, dat dit my tussen die oë tref, ek is nie meer 20-something nie.

Ek reken oud word het sy hoogtepunte, alhoewel min en vêr uitmekaar, maar dit is dat jou 'eerstes' so min word wat my vang. Ek onthou nog die eerste keer wat gedrink het - ek en Lienka het 'n bottel Bellingham Johannisberger (ek het in Vryburg groot geword, dit was of dit of brandewyn) op die skoolpawiljoen gaan uitdrink terwyl die son opgekom het. "Kyk Joe, die shon kom op." het soortvan 'n leuse geword. Ek was redelik geskok toe ek die volgende oggend in die kerk uitvind nadors is 'n simptoom van drink. My ma het so onderlangs vir my gevra "het jy gedrink?" toe ek vir die derde keer noem dat ek dors is. Die onskuld is darem maar beeldskoon.

Al my ander eerstes het permanente spesiale prentjies in my hart. My eerste sigaret saam met Tersia langs ons huis se swembad. My eerste soen langs die skoolsaal tydens die valentynsokkie. Die eerste keer wat my hart gebreek het (as gevolg van dieselfde ou van die valentynsokkie soen.) My eerste ware liefde wat ook 'n ander eerste tot gevolg gehad het wat ek liewer nie hier moet bespreek nie, want my ma lees ook my blog. My eerste motor - 'n wit Toyota Tazz waarmee my ouers my verras het - ek het gedink dit is die mooiste motor ooit. Die eerste keer wat ek heeltemal my hart en siel verloor het op 'n mens (êrens in 'n vreemde land.) My eerste troue (defnitief my laaste.) My eerste skinny dip in Malmesbury se publieke swembad 12h00 die aand (Malmesbury raak baie warm in die somer.) My eerste tattoo (dis 'n lang storie.) My eerste swangerskap en meisiekind. En vele meer eerstes as wat ek voor spasie het op hierdie bladsy.

Ek het darem altyd nog die 'wysheid' om na uit te sien, en as dit te lank vat het ek darem 'n paar goeie herhinderinge op om terug te val. Dan behoort daar ook darem nog hier en daar 'n eerste te wees wat die lewe interessant sal hou, soos byvoorbeel my eerste Jimmy Choos en Manolo Blahniks...

Wednesday, September 23, 2009

As braai jou erfenis word


More is Erfenis dag; 'n publieke vakansiedag in Suid Afrika waarin ons verondstel is om ons kulturele erfenis te vier. Ons (dis nou die mense wat gewoontlik op 'n saterdag rugby kyk en braai) het dit goed gedink om dit ook braaidag te doop, want 'kulturele erfenis' klink darem maar baie soos klein hout afrika diertjies en draadkarre. Regoor die land sal daar more tjoppies, wors en selfs 'n vissie (tien teen een slegs in die Weskaap) op die kole gegooi word. Baie bottels brandewyn, bier en wyn sal hulle lewens aflê en alles ter herdenking van ons erfenis. Ons vir jou Suid Afrika.


Ek, aan die anderkant gaan so min as moontlik doen vir so lank as moontlik. Sal egter vir seker 'n ou ietsie drink op my efenis, al is dit dan nou om te kan braai.

Friday, September 18, 2009

Kom ons praat oor die weer

Die winter hou sy nat greep verbete om die lente, maar ek is vol moed dat die Kaap binnekort warmer sal raak. Ek dink hierdie was my langste winter nog. Behalwe miskien my eerste Kaapse winter in 1998 tydens my eerstejaar op Stellenbosch. Ek was op daardie stadium glad nie gewoond aan winterreën nie en ek is behoorlik in 'n depressie ingereën. Sedertdien het ek egter toleransie opgebou en vermaak ek my depressie net as niemand kyk nie.

Die weer is vandag grys buite en toe kom ek op hierdie gedig af wat ek êrens in my verlore jeug geskryf het en vir 'n oomblik het ek weer terugverlang.

kom ons gaan sit naby die venster
en dan praat ons oor die weer
kom ons maak of alles sin maak
en los die pleisters op die seer

miskien kan jy saggies aan my vat
en iets sinneloos in my oor kom fluister
jou mond 'n rukkie vir myne leen
terwyl ons na die stilte luister

want

jou soene proe soos rooiwyn
jou lag is 'n somersdag

maar

buite val die reën
en ek slaap weer alleen vannag

Thursday, July 30, 2009

Soen my gou

Pardon my lips, they find pleasure in the most unusual places. - quote from the movie A good Year.

Ek is geseënd (sommige sal reken gestraf) met die gawe van droom. Ek droom elke aand van my lewe en elke droom is tot in die fynste detail; van reuke tot teksture ek kan alles sien, hoor en ruik. Dit is so werklik dat ek sommige oggende wakker word met 'n gevoel van verlies; asof ek 'n verhouding beeïndig het. My vriend Charl sê altyd, as ek hom so van my vorige aand se droom vertel, dat hy bly is hy hoef nie in my kop te bly nie, want dit moet 'n skrikkerige plek wees.

Gepraat van skrikkerig - gisteraand het ek gedroom van my standerd 8 kêrel, Jannie du Plooy. Die droom was nou nie regtig iets om oor te vertel nie, maar dit het my weer laat onthou hoe lekker hy gesoen het (en my 5 ander vriendinne waarmee hy uitgegaan het, sal vinnig saamstem.) Na Jannie was dit altyd 'n voorvereiste - hy moes kon lekker soen, as hy nie kon lekker soen nie, het ek aanbeweeg. Wat? Jy dink dis 'n bietjie oppervlakkig? Wel dink daaroor, ons almal het 'n voorvereiste wat vinnig bepaal of die verhouding kan aangaan of nie. En dan is daar die een ding wat jou so afsit, dat selfs sy lekker soen jou nie daaroor gaan laat kom nie. Myne is vuil, skurf elmboë, niks sit my meer af in 'n man as vuil elmboë nie. Of bakterieë freaks wat die jik uitruk as jy sy lepel afgelek het. My vriendin Lienka het altyd eers na die skoene gekyk - wit skoene was uit en vellies met rooi of groen veters was 'n groot nee. Tersia kon nie 'n man met stink asem uitstaan nie en my suster Carla verloor dit so bietjie met iemand wat heeltyd snuif.

Maar ek dwaal af, terug by die soen - my pa het altyd gesê daar is 2 dinge oor sy dogters waaroor hy nooit bekommerd sal wees nie; ons sal nooit anorexia kry nie en ons sal nooit gay wees nie, want, was sy redenasie, ons hou heeltemal te veel van kos en kêrels (nie noodwendig in daai volgorde nie.) En as ek daaroor moet bieg, ek is 'n vryer, ek is mal oor vry. Met elke nuwe verhouding het ek in die eerste week sulke fyn rofies op my ken gehad van al die vry.

Lisa het haar eerste rapport huis toe gebring - in die kommentaar gedeelte staan daar 'Dit is 'n plesier om Lisa in my klas te hê, sy is 'n liefdevolle en besige meisiekind.' My kind is 9 maande oud en word beskryf as liefdevol! Ek is bevrees dit is nou amptelik; ons het nog 'n vryer...

PS. Vir duidelikheid 'vry' in Hanli terme is alles bo die belt, maw soen en al die lekker goed wat daarmee gepaard gaan.

Friday, July 24, 2009

True Colours



I have always been rather independant. This has been mostly my choice. I even chose to study 1000 km from home so I can prove my independance, more to myself than anyone else. This has not always been easy, but necessary. Even after getting married my husband and I have been very independant from each other. We each had our own money, own friends, own interests - we split the expenses down the middle and never questioned what the other one did with their 'private' money. This was until we had the one thing that will make us dependant on each other for the rest of our lives - our little flower, the lady Lisa.

Never could I have imagined that such a tiny person whose vocabulary consists of the total of three words namely mama, dada and baba; could teach me so much about myself. I have found myself to be patient, loving, caring and soft. I have also become strong, much stronger than I thought I will ever be. I have realised how dependant I am of so many people - family, friends and my husband. As they say; it takes a village to raise a kid. I have always been very hard on myself; setting impossible goals and judging myself on incredibly high standards. When I look at myself as a mother, I feel I am finally passing the test. When Lisa looks at me with a smile in her big blue eyes, things fall into perspective and life somehow makes sense.

Being a mother is not only a gift, it is a privilige. I sometimes miss my independance. I long for the freedom that only having no responsibilities can provide. There is still something that sometimes pull me in that direction, but what keeps me grounded is so much bigger. There is a nomad inside me who will forever long to be running with the wind, but as the time passes her voice will become softer, until maybe only a whisper will remain.

Tuesday, July 7, 2009

Ontnugter

Die HAT gee die betekenis vir die woord ontnugter as; 'n illusie ontneem.


Wie is ek?

Ek dra my hart vierkantig op my mou, sodat jy nie sal wonder oor die hartseer in my oë nie.
Ek weet van jou hartseer lank voordat jy my sê
Ek verstaan van seer en alleeen en lag en gelukkig, want ek was al baie keer daar.
Ek vind iets sensueel aan wat die son en wind aan my lyf kan doen as ek op die strand lê.
Daar is 'n wêreld in my kop waar mense bly wat ek nog nooit ontmoet het nie.
Ek verstaan onvoorwaardelike liefde wanneer ek na my dogter kyk.
Dieet is sonde en detox is 'n vonnis.
My hart is groot en sag, maar jy sal dit net weet as jy styf teen my kom staan.
Ek is bereid om vir jou alles te gee as jy bereid sal wees om dit op te pas.

Dit laat my asemloos;
'n Sagte mond wat in die holtes van my nek pas en daar vertoef soos 'n soet herhindering
Hande wat aan my lyf kan vat sodat jy die lyntjies van die vingerafdrukke kan voel
Woorde wat in my oor kom speel en daar aan die slaap raak

Dit maak my seer;
Harde woorde wat gemaak is om my te breek.
Drome wat moet wag en soms net in die niet verdwyn.
Mense wat my moet liefhê maar nooit die kapasiteit van my hart besef nie.

Wie is ek?

Friday, July 3, 2009

'n Broertjie dood

Sekere dinge hou ek net nie van nie soos byvoorbeeld geel motors en ongemanierde kinders. Dan is daar dinge wat ek nie kan verdra nie. Hierdie is die goed wat onder my vel inklim en my aan die binnekant krap. Vir my is hierdie dinge so verregaande dat my mond elke keer oophang as dit gebeur en alles binne my skreeu; wat de f&%$ het jy gedink!!?? Aan die volgende het ek nie net een nie, maar 'n paar broertjies dood. (Dit is onder andere hierdie uitrdukking en die liedjie Siembamba wat my laat wonder oor ons voorvaders. Maar meer hieroor later.)

Honde wat in inkopie trollies rondgestoot word of in handsakke gedra word. Ek verstaan dit nie. Wil iemand dit nie asseblief vir my verduidelik nie? Enige iemand wat vir een oomblik dink dat dit natuurlik is vir 'n hond om in 'n handsak rondgedra te word moet hulp kry, dit sluit natuurlik die helfte van Hollywood in. Ek kan nie aan julle verduidelik wat dit aan my doen as ek besig is om inkopies te doen en voor my loop 'n tannie met haar trollie en wagter lê op sy kombersie reg langs die broodrolletjies nie. Watter gedeelte van die memo oor ons werk met kos hier, het jy nie gekry nie?

Mense wat stadig ry in die vinnige baan. Hou links gaan regs verby - hierdie padreël is nie vir jou gesondheid uitgedink nie - daar is 'n stadige baan vir 'n rede. As ek op die snelweg in die vinnige baan moet remme aanslaan omdat die nar voor my besluit het 80km per uur maak eenvoudig net meer sin as 120km per uur, dan verloor ek dit. Doen my 'n guns, gaan lees ten minste net deur die padreëls selfs al koop jy jou lisensie.

Mieliepap; slymerige meelmengsel met growwe stukke tussen-in. Het ek nodig om meer te sê? Hierdie is miskien nie heeltemal regverdig nie, want ek het in 'n koshuis grootgeword en was gedwing om mieliepap te eet. Die tafelhoof (wat 'n 13 jarige meisie was) het aan die tafel bly sit totdat ek my bak pap opgeëet het. Dit was altyd soos 'n episode uit fear factor - ek eet 'n lepel, walg, gooi bietjie in my mond op, eet nog 'n lepel, walg...jy kry die prentjie.

Klikkiebekke. Ek praat nie van Ma, boetjie trek my hare nie, ek praat van grootmens klikkiebekke. By my maatskappy is daar 'n paar individue wat oor alles HR toe hardloop. As iemand te hard praat of te hard lag of net nie genoeg glimlag nie dan word hulle by HR verkla. Verstaan my mooi, ek het nie probleme met goed soos seksuele teistering of onregverdige behandeling nie, maar die onsinnighede wat partykeer daar uitkom is belaglik. As mens 'n probleem het met iemand, staan jy op, loop tot by hom en sê vir hom reguit jy het 'n probleem. Ek is self meer 'n blommekind; ek maak eerder liefde as oorlog, maar daar is nie 'n groter lafaard as die een wat agter iemand anders moet wegkruip nie. Gaan maak jou eie oorlog of byt op jou tande.

Nou moet ek vir eers ophou, want net om aan hierdie dinge te dink irriteer my so dat ek nou skoon onsteld is. Tot my maag draai, maar dit kan ook dalk net wees as gevolg van herhindering aan mieliepap.

Thursday, July 2, 2009

Voodoo

ek weet jy is nog hier iewers
jou spore lê duidelik in die sand
jou reuk speel wegkruipertjie in die lug
jou lippe sag in die holte van my hand
jou stem eggo deur die gange
jou trane hardloop deur my skryf
ek weet jy is nog hier iewers
in die voodoo van my lyf

Wednesday, June 24, 2009

Hoeveel geld moet jy hê om ryk te wees

If you want to know what God thinks of money, just look at the people he gave it to.
- Dorothy Parker -

Ons ken almal daai stories van hoe die vorige geslag arm groot geword het - daar was nooit geld vir skoene of vakansies nie. Hulle het hulle eie speelgoed gemaak en met die donkiekar skool toe gery. Al hulle klere was handgemaak, hulle het pap geëet en seep gekook. En dan sal hulle altyd sug en met so vêr-af kyk in hulle oë sê 'julle jongmense weet nie wat dit is om arm te wees nie.'

Ek het nog altyd so na hierdie stories geluister en maar net my seëninge getel, want die hemel weet ek hou nie van pap nie en my seep moet na blomme ruik. Dit is egter die laaste tyd wat my man gereeld vir my hierdie sinnetjie voor my kop gooi, dat ek werklik daaroor begin dink het en tot die skokkende besef gekom dat ek wel arm groot geword het...

Ons huis het sementvloere gehad, want daar was nie geld vir matte of teëls nie. Ons het 'n groen Ford Grenada gery wat se uitlaatpyp gereeld op die grond gesleep het. Ek het so geel no-name brand rakket gehad wat se verf naderhand begin afgaan het, want daar was net eenvoudig nie geld vir 'n nuwe een nie. Ek was in 'n koshuis en het R5 per week sakgeld gekry. Daar was nooit regtig geld vir enige iets behalwe die noodsaaklikste nie, maar dit het my nie gepla nie, want ek het nooit gevoel ek kom iets kort nie. Ek het nie duur speelgoed nodig gehad nie, want ek kon ure op die plaas ronddwaal in my eie wêreld. Dit was heerlik om in die warm somer op die koel sementvloer te gaan lê. Jy kon maar vir my 'n Wilson ook gegee het, maar met my rughand sou ek in elk geval nie verder as die skool se 2de span kom nie. Ek en my suster het ons doodgelag vir die groen Ford (ons doen nou nog.) My pa het die beste sin vir humor gehad so alles was altyd snaaks en my ma kon jy deur 'n ring trek al het sy nie die duurste klere aangehad nie. Ek het my nooit geskaam vir my huis of my ouers of my eie tekortkominge nie. Miskien was dit die plek waar ek grootgeword het of miskien was ons net gelukkig ten spyte van ons min geld.

My oupa Jerry het altyd 'n sêding gehad; "mens hoef nie ryk te wees om 'n rykman se maniere te hê nie." Daar is 'n groot verskil tussen arm en armsalig. Ek het arm grootgeword, maar ek het dit nooit besef nie, want ek was heeltemal te besig om myself te geniet.

Wednesday, May 6, 2009

Run a Half marathon : check


At the onset of the new year I decided to do a 10 year resolution instead of a new year's resolution, because let's be honest the only new year's resolution I have stuck to in the last 5 years is 'to stop worrying about my weight.' Which in turn explains the ease with which 'weight' has made himself at home along the lower half of my upperbody. I decided to do a close-my-eyes-and-see-where-my-finger-lands exercise to decide which one of my resolutions I will do first. As my luck goes, it totally skips the get a tan in Spain option and lands on run a halfmarathon. How that option even managed to get in there is still a bit of a mystery, but I decide to wear my big girl panties (not that I have any panties of a smaller size, mind you) and do it. I enter the Two Oceans Half Marathon, but because of the flu I have to find another one and decide to enter the Safari Half Marathon.


With 5 months of medium intensity training, topped with the fact that I finally found a sportsbra strong enough to support the girls, I feel sort of ready. It is a cloudy day in Wellington and it looks like rain. I give myself a pat on the back for wearing my dri-fit T - at least I look like I know what I am doing, but that's maybe just beacause we're not running yet.


The gun sounds and we're off, or are we? It is rather difficult to maneuvre your way around the odd 5000 people, so the first 400 metres we have to walk. I finally start a slow run which eventually turns into the medium pace I'm used to. At around 3kms the running is still good. I enjoy the on field banter between the runners and locals next to the road chiming; "hou bene hou." Some of the runners brought sweets for the children which they scatter on the ground as we pass. It's raining sweets, but that's not all. At the 5km mark the heavens open up and give us some 'holy water' as one of the onlookers says. Not much, just enough to cool me down.

At 7km I can feel that I have been running. There is a slight pain in my left thigh and I am drenched. In the meantime the slight drizzle turns into a shower. Even my new dri-fit T is dripping at the seam. The left part of my body is freezing from the wind coming from that side. No fun, I think, but it's only 14km and I still have a good 7km to go. There are 4 of the local kids yelling "nog 'n bietjie, nog 'n bietjie, nog 'n bietjie vorentoe." I swear a little in my head, but give them half a smile for the effort.

18 km - only 3 to go. I have lost all feeling in my legs. I think my lungs are about to leave my body. I try to walk but for some weird reason it hurts more, so I do a slow trot. A man passes me, he looks 90. Is this as fast as it goes? my body keeps asking my brain, but there is a notice on her door - 'gone fishing' - so no reply. At last I hear the microphone, the mc is trying to encourage one of the finishers - a 60 year old lady, apparently this is her 5th Safari - great company I'm keeping. I see the stadium, only one more km to go, hou bene hou.

I cross the finish line! It is done, my body checked out a while ago, but I have done it. I look like someone who just had a hip replacement as I limp my way back to the car where my friend Charl is waiting for me. He finished half an hour ago and already looks like he can run another one. Apparently my wet, limping figure is cause for amusement, because he is trying hard not to burst out laughing. I am, however, oblivious to all pain and to the fact that I can probably qualify for a place in the old age home with the way I am walking, because I made it. I ran a halfmarathon only six months after giving birth, I think I deserve a medal...oh wait, they gave me one.

Will I do it again? Ask me again in a week's time.



Thursday, March 26, 2009

'n Verandering is so goed soos 'n vakansie.

Change always comes bearing gifts - Price Pritchett

Vandat ek 'n klein dogtertjie was, het my Pa altyd die sêding gehad "a change is as good as a holiday." Ek het natuurlik gedink hy is nie lekker nie, want my idee van 'n vakansie was twee weke in Heroldsbaai en geen verandering kon naby dit kom nie! In die laaste 4 maande op kraamverlof is dit juis die woorde wat heeltyd in my ore gelui het. Miskien het dit iets te doen gehad met al die make-over programme wat ek op DSTV gekyk het. Dit was 'n opskiet tussen my en my eetkamer, maar my begroting kon nie heeltemal 'n nuwe tafel dek nie, toe word dit maar 'n persoonlike oormaak.

Ek het na my suster se baie eksklusiewe haarkapper gegaan en uitgevind hoekom sy vir 4 maande spaar voordat sy na hom kan besoek; maar jou selfbeeld kan seker nie 'n prys hê nie (ek dink natuurlik dis 'n frase wat plastiese chirurge uitgedink het.)

Ek het letterlik alles oorgedoen - hulle het tot my ooghare gepluk en voete masseer. Hy het my gesigsvorm ontleed en my klere en juweliersware gebruik om my persoonlikheid te bepaal (ek kon egter self vir hom gesê het ek is stil, skaam en teruggetrokke...) Die uiteinde (en R1800) later:

Miskien kon ek toe tog die tafel tafel bekostig het...


Tuesday, March 24, 2009

Woorde

Such is creativity...such a chancy, unpredictable, unwilled and even in some ways unintentional process. It isn't something you do, it's something you find yourself doing, and doing compulsively. But in order to occur at all it requires; silence, inaction, free time to listen, an empty space into which the words may move. And poets, in my experience, spend a lot of time gazing out the window and the rest of it scribbling on the backs of envelops, when other people think they should be mowing the lawn.This is why the vocation of poetry creates such hazards, such pitfalls, in the course of ordinary social life, not only for the poet herself but for those around them… There is a lot of burnt toast in the lives of poets…" - Margaret Atwood from 'About Poetry -


In die laaste 5 maande het ek niks gelees nie; geen boek (behalwe die Bybel) en geen gedig of storie nie (behalwe die laaste een oor Joost in die Huisgenoot - ek is ook net mens.)

Aan die begin was dit as gevolg van noodsaaklikheid, ek was 'n nuwe ma en het skaars tyd gehad vir tande borsel. Teen die einde was dit 'n keuse - hoe minder ek myself besig gehou het met ander mense se woorde, hoe meer het ek weer my eie gehoor. Hoe stiller ek geraak het aan die buitekant, hoe meer het my binnekant begin raas. Nou sit ek met woorde; so baie woorde ek sukkel om te slaap in die aand. Woorde wat ek so graag met jou wil deel en ek is heeltemal van plan om dit te doen.

There is nothing to writing. All you do is sit down at a typewriter an open a vein. - Walter Wellesley "Red" Smith

Don't tell me the moon is shining; show me the glint of light on broken glass. - Anton Chekov

Hou hierdie spasie dop...

Friday, March 6, 2009

30, wie's 30?

I don't plan to grow old gracefully; I plan to have face-lifts until my ears meet. - Rita Rudner -

Vir my 30ste verjaarsdag het ek 'n groot vet puisie op my linkerwang gekry. Nie eers my onderlaag (wat ek 'n jaar laas gesien het en my 3 ure gevat het om op te spoor) kon die skade wegsteek nie. Nie dat ek enigsins verbaas was nie, my lewe het nog altyd redelik verkeerd om gewerk - toe ek 7 was, het ek die Beatles ontdek en Ingrid Jonker het vir my sin gemaak skuins na my 13de verjaarsdag so dit is seker gepas dat ek op 30 puisies moet kry...

Ek het regtig opgesien na my 30ste verjaarsdag, nie oor die ouderdom nie, want ek was eintlik al 30 kort na my 16de verjaarsdag, maar eerder oor die tyd wat minder raak en die geleenthede wat ek nie opgeëis het gedurende my twintigs nie. Kom ons wees nou eerlik daar is sekere dinge wat jy slegs kan doen terwyl jy in jou twintigs is, soos aan Idols deelneem, die 100m vir vroue op die olimpiese spele wen, 'n suksesvolle tennis loopbaan begin en Brad Pitt by Angelina afvry. Terwyl my sang, atletiek en tennis loopbaan aan skerwe lê en my gelukkige toekoms met Brad soos 'n skim in die nag lyk, het my vriendin Irene egter die volgende woorde as troos aangebied: "Geniet dit, jou volgende groot verjaarsdag is op 40." Die hemele behoed ons.

Na 'n seker ouderdom begin 'n vrou se lyf ook nie meer so lekker saamwerk nie. Jy verloor nie meer so maklik gewig soos voorheen nie en seker dele beweeg stadig maar seker Suid. Ek het dus ook 'n baie belangrike besluit gemaak oor my standpunt op plastiese chirurgie - as dinge slegs Suid beweeg, is die kompas gebreek. So sodra my lyf toelaat sal ek haar en haar kompas invat vir 'n diens. Nou nie 'n totale overhaul nie, maar defnitief 'n bietjie panel beating.

Ek het onlangs 'n quote van Oscar Wilde raakgelees wat sê "One should never trust a woman who tells her real age. If she tells that, she'll tell anything." Al wat ek kan sê is 30, wie's 30?

Monday, January 26, 2009

Emmer lysie

I like the dreams of the future better than the history of the past. - Thomas Jefferson -

Januarie is al amper verby en steeds staan my nuwejaarsvoornemens lysie op ‘gewig verloor.’ Dit opsig self is kommerwekkend aangesien ‘gewig verloor’ al die laaste 5 jaar bo-aan my lysie is, maar nog nooit tot vervulling gekom het nie. Inteendeel, ek word jaarliks eerder groter as kleiner. (Kind kry en my mayonnaise fetish help seker ook nie regtig nie.)

2009 is egter ‘n groot jaar – ek word in Februarie 30 wat terselfdetyd ‘n opwindende en ‘n vreesaanjaende vooruitsig is. Ek sien uit na die volwasse, meer verantwoordelike ek wat hopelik haar verskyning gaan maak (of nie), maar dit is ook met ‘n tikkie heimwee wat ek my roekelose jeug agter my laat.

Ek onthou nog hoe ek op die skrale ouderdom van 20 eenkeer vir ‘n restaurantbestuurder by wie ek ‘n kelner was gesê het; “oor 5 jaar is ek gepubliseer en dan flip jy nog steeds burgers vir ‘n lewe.” Ek is nog nie gepubliseer nie (wel nie regtig nie) en ek weet nie of die ou nog burgers flip nie, maar dit is darem fassinerend hoe vol bravade ‘n mens kan wees as jou lewe nog bars met potensiaal. Dit is meestal ook wat ek raaksien as ek na my 3 maande oue dogtertjie kyk – vragte en vragte potensiaal.

Ek het nou wel 3 dekades (minus 3 maande) minder potensiaal aan my kant, maar het besluit dat hierdie jaar sal ek in plaas van nuwejaarsvoornemens eerder lewens voornemens maak. 10 goed wat ek wil doen voor ek 40 is – ‘n hele 10 jaar se potensiaal opgesluit in 10 voornemens. Amper soos Morgan Freeman en Jack Nicholson se emmerlysie in die fliek “the bucket list” met hopelik die een groot verskil dat ek nie die emmer sal skop voor 40 nie. Maar mens weet nooit nie…

  1. Publiseer iets. Soos met die meeste talente kan mens slegs beter daarin word as jy oefen. My doel is om te oefen totdat ek goed genoeg is om deel te neem en dan sommer te wen ook.
  2. Word bruin langs die Spaanse of Griekse kus. Ek wil ‘n somervakansie in Europa gaan hou en dan met ‘n egte Spaanse tan terug kom.
  3. Tango en Salsa in Argentinie. Vir hierdie een sal ek egter eers my man moet ompraat om te gaan vir ‘n paar klasse – dit sal letterlik moeiliker wees as om daar te kom, maar wie's bang?
  4. Spandeer ten minste een keer ‘n jaar ‘n naweek saam met vriendinne in ‘n spa. En ek praat nie van Poppie se beauty salon in haar garage nie, ek praat van die plekke waar die mense met geld uithang. Ons sal egter net moet wag vir die special.
  5. Hardloop ‘n halfmarathon.
  6. Wees ‘n goeie (en beter) ma, vrou, vriendin, dogter en suster. My wiskunde onderwyser het altyd gesê ‘wees so dat mens vir jou kan lief wees’ - ek dink hierdie een val in daardie kategorie.
  7. Leef naby my Skepper. Was dit nie vir my geloof nie sou ek letterlik nie my 30ste verjaarsdag gesien het nie. Ek kan ook nie ‘n dag in my toekoms sonder Sy leiding en liefde indink nie.
  8. Lees, lees, lees. Ek wil soveel moontlik lees, nie net vir myself nie, maar ook vir my kind(ers.) Ek sal graag my groot liefde vir die letterkunde ook aan hulle wil gee.
  9. Gaan skinny dip saam met my man op ‘n plek waar dit verbode is. Ok, hierdie een is soortvan al gedoen een aand by die publieke swembad in Malmesbury, maar ek het ‘n meer eksotiese plek in gedagte gehad. (Hierdie is ook een van daardie dinge wat ek nie sal omgee om gereeld te doen nie.)
  10. Maak elke oggend opnuut my hart oop vir die potensiaal wat elke dag inhou en spandeer soveel tyd moontlik saam met al die engele in my lewe.

Kom ons hoop die volgende 30 jaar is net so interessant soos die 30 wat verby is.